Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Vrag van 150 sakke heel mielies afkomstig van George is Vrydag 16 Februarie na drie boere in die droogtegeteisterde Rietbron-omgewing geneem.
Die voer is geskenk deur 'n klompie boere en sakemanne van George wat hul harte en hande oopgemaak het nadat 'n plaaslike sakeman, Johan Viljoen, eienaar van JP Fencing, besluit het om sy jagvriende, saam met wie hy jaarliks in Rietbron jag, gevra het om skenkings te maak.
Dit het nie daar gebly nie, want toe SSK Agriland daarvan hoor, het Charmaine Sander en Ilze Rabie, twee verkoopsdames by die voerstoor, klante vir donasies genader.
Op hierdie manier is die 150 sakke binne minder as twee weke bymekaargemaak.
"Ek was verras oor die reaksie. Ons het gemik vir 80 sakke, maar toe kry ons byna dubbeld soveel," sê hy.
Die voer was bestem vir die drie plase wat volgens Viljoen in 'n strook geleë is wat die onlangse reën in die Rietbron-omgewing gemis het.
Johan Viljoen (links) het die proses aan die gang gesit om voerskenkings in George in te samel. By hom is van links: Frik Hattingh, voerstoorbestuurder by SSK Agriland, sy verkoopsdames Charmaine Sander en Ilze Rabie, en Gert van Schalkwyk wat met die vervoer van die mielies gehelp het. Foto's: Alida de Beer
"Ons jag al 13 jaar op Kalkdam, Ziets Zietsman se plaas, en toe ek hom onlangs in die bank hier in George raakloop en ek hoor hoe die droogte hulle kniehalter, het ek besluit iets moet gedoen word.
"Ek het begin donasies soek deur eers 'n klomp jagvriende te bel en dit ook op die Facebook-blad, Georgiete Staan Saam, geplaas.
"Die dames van SSK het natuurlik wondere verrig om donasies van hul klante te kry."
Gert van Schalkwyk van Gel Group het self agter die stuur van een van sy trokke ingeklim om van die sakke te vervoer en Viljoen het die res met sy bakkie geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Nog hulp nodig
Viljoen sê nadat dit bekend geword het dat hy voer vir Rietbron ingesamel het, is hy deur 'n boer van Aberdeen genader wat in die nood is.
Hy is bereid om die middelman te wees indien daar persone is wat skenkings wil maak.
Mense wat wil skenk, kan na SSK Agriland se voerstoor gaan om dit daar te betaal, of kontak Viljoen by 076 099 4599.
Lees 'n vorige artikel hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'