TUINROETE NUUS - "Ek is mos maar 'n plaasseun. Die afgelope paar dae wat ek hier op die plaas was, is baie lekker." Só vertel CJ Stander, Suid-Afrikaans gebore rugbyspeler wat deesdae in Ierland speel oor sy planne om ná sy rugbyloopbaan terug te keer na die Suid-Kaap.
Die 28-jarige Stander en sy vrou, Jean-Marié, het onlangs op sy ouers, Jannie en Amanda Stander se plaas, Buffelsdrift naby George gekuier. Hy het net ná Ierland se toer in Australië 'n draai kom maak.
Tydens die toer het hy in die laaste toets 'n beslissende drie vir Ierland gedruk. Nie net het dié drie Ierland in staat gestel om die toets te wen nie, maar ook die reeks.
"George lê my na aan die hart. Alles wat ek ken, kom van George af," sê Stander.
Hy en Jean-Marié het op 1 November 2012 na Ierland vertrek.
"Ek is hier weg met twee tasse."
Sedertdien het baie water in die see geloop. Hy probeer minstens een keer 'n jaar 'n draai maak in sy grootwordwêreld. Hy het al 24 keer vir Ierland uitgedraf en was verlede jaar ook lid van die Britse en Ierse Leeus se toetsspan wat teen die All Blacks gespeel het.
Sy verbintenis met die Suid-Kaap kom 'n lang pad. Hy was op Laerskool Blanco en later is hy na die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, waar hy hoofseun was. Destyds was hy onder meer SA skolekaptein en ook 'n diskusgooier van formaat.
Hy mis die plaas in die Suid-Kaap, sy ouers en sy skoonouers baie.
Stander benadruk dat hy en Jean-Marié baie gelukkig is in Limerick, Ierland waar hulle 'n huis besit. Hulle het twee honde, George en Abbey, albei King Charles Cavalier-honde.
Aanvanklik was die weer 'n aanpassing, maar hy het gewoond geraak daaraan. "Die winterweer nou hier in George is eintlik warm."
In hierdie stadium is dit onmoontlik om te sê hoe lank hulle nog daar gaan woon. Dit sal seker nog vir die volgende drie jaar wees, want hy het onlangs 'n kontrak geteken om tot 2021 daar rugby te speel. Daarna sal hy oor die pad vorentoe besin, glimlag CJ. Hy wil darem uiteindelik terugkom om te kom boer.
CJ Stander (links) saam met sy pa, Jannie en sy jonger broer, Janneman. Die foto is op die Standers se plaas, Buffelsdrift net buite George geneem.
Foto: Eugene Gunning
Terwyl hy op die plaas gekuier het, het hy bietjie trekker gery en kool gaan aflewer.
"Ek het my pa ook so bietjie met die beeste gehelp."
As hy eendag terugkeer, sal hy graag plaaslik wil help met sportontwikkeling. Oor sy besluit om destyds sy heil in Ierland te gaan soek, is hy glad nie spyt nie.
Hy sien baie uit na aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan en hy hoop om die Ierse groep te haal wat aan die toernooi gaan deelneem.
Jannie Stander het gesê dit is altyd wonderlik as CJ 'n draai op die plaas maak. "Dit bly hartseer as hy teruggaan. Ek gun hom dit egter uit my hart dat hy sy lewe daar voer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'