'Teleurgesteld en Ontnugter', George:
Drie jaar gelede het ek na George verhuis. Nogal gedink dit is die regte besluit. Toe nie, want ek het nagelaat om een van die drie belangrike dinge in aanmerking te neem wanneer 'n mens aftree: finansies, gesondheid, en waar om te gaan woon.
Omdat die eerste twee nie juis 'n probleem is nie, was ek van oordeel dat ek op enige plek gelukkig sal wees. So eenvoudig is dit nie. 'n Mens se uitkyk en veral lewenstyl is van kardinale belang.
Wat George bied, dra nie by tot my geluk nie. Dis dan ook die rede waarom ek my ankers gaan lig en einde van die maand verhuis.
Wat mis ek in George, want dis dan so 'n mooi omgewing, mag jy vra? Mense is vriendelik en as Afrikaanssprekende voel ek gemaklik hier. Hier is uitstekende mediese dienste, die dorp word goed bestuur, die klimaat is matig, hier is baie sportsoorte om aan deel te neem, en baie mense is gelukkig hier.
Of is hulle? Wanneer die huisvesting hemelhoog is en kunsmatig daar gehou word. Hoeveel inwoners moet hul rieme dun sny en hoeveel raak agter met verpligtinge?
Die dorp het baie voete (inwoners) en tog bykans geen nywerhede nie. Sou ek 'n entrepreneur gewees het, sou ek óf 'n paneelkloppery óf restaurant hier geopen het, want hier is baie ou mense wat hul karre stamp, en baie wat nie wil kosmaak nie, en dus uiteet. Met die werk wat skaars en salarisse laag is, kan dit winsgewend wees.
As enkellopende wil ek nie alleen na plekke uitgaan nie. Dames stel nie in my belang nie, want ek het my eie voorkeure. En ek is regtig nie windgat wanneer ek dit sê nie. (Ek bied net nie aan om jou te trakteer of doodgaanplek te bied nie).
Ek sal aansluit by 'n klub, maar ek speel nie rugby, krieket, tennis, rolbal, swem of so nie. En moenie dink ek stel nie belang in liggaamlike en geestelike fiksheid nie. Inteendeel.
Wat bied George aan inwoners in die vorm van byeenkomste? Een keer per jaar 'n oumotor- en 'n landbouskou.
En wat bied die aftreeoorde as ontspanning vir inwoners? Weet net van een waar daar een middag per week tafeltennis gespeel word. Geen sprake van wandelpaadjies nie, om nie te praat van 'n rolbal-, jukskei-, kroukiebaan nie en nog minder van binnenshuise ontspanning soos 'n potspel, veerpyltjies, ens. Inwoners kan slegs (by dié wat biblioteke het) boeke uitneem om te lees, of televisie kyk, of na die berge staar.
Net terloops, waar ek woon, woon baie interessante mense. Elkeen het 'n uitsonderlike storie om te vertel. En as dit nie vertel word nie, gaan dit saam met hulle graf toe. Ek het 'n poging aangewend om hul stories te versamel en in boekvorm te laat druk.
Daarvoor moes 'n e-pos aan die inwoners uitgestuur word om mense te nader en moes ek toestemming kry dat die kantoor van die aftreeoord dit kan uitstuur. Die antwoord wat ek gekry het op die versoek was, "Jy wil nou 'n dooie kat lewendig maak." Dit sê alles.
Is ek krities? Ja, beslis, want George bied vir my niks wat by my lewenstyl en belangstelling pas of prikkel nie. En ek is van mening dat die eienaars van aftreeoorde geldmal is.
Ek gaan afskeid neem van 'n paar goeie vriende en kennisse wat ek hier ontmoet het. Vir hulle en al die ander, mooi loop.