Bekommerd van George skryf:
Ek is diep geskok na die berig in George Herald, (Burdened detectives battle mounting caseloads - 18 September 2025) oor die speurders in George wat honderde dossiere alleen moet hanteer.
Hoe is dit moontlik dat 'n enkele speurder tot byna 400 aktiewe sake op sy tafel het? Dit is nie net onregverdig teenoor die polisiebeamptes nie, maar ook teenoor die slagoffers van misdaad wat wag op geregtigheid.
Die werklikheid dat sommige van hierdie dossiere moorde, verkragtings en ander ernstige misdade insluit, is eenvoudig onaanvaarbaar.
Hoe kan 'n mens verwag dat 'n speurder, wat snags uitroepe bywoon en onder konstante druk werk, behoorlike aandag aan elke slagoffer kan gee? Die gevolg is onafwendbaar: uitgestelde ondersoeke, verlore bewyse en slagoffers wat hoop verloor.
Hierdie probleem is nie uniek aan George nie. Oor die hele land dra speurders 'n las wat drie tot 10 keer die aanbevole aantal sake is. Teen internasionale maatstawwe werk ons polisie onder onmoont-like omstandighede.
Die stelsel is gebroke, kyk maar wat in ons polisie op nasionale vlak aangegaan. En dit is die gewone burger wat uiteindelik die prys betaal. Elke uitgestelde saak beteken nog 'n misdadiger op straat en nog 'n slagoffer wat sonder antwoorde bly.
Die regering sal dringend moet belê in meer personeel, beter toerusting en 'n regstelsel wat hierdie las verlig. Ons speurders verdien dit om hul werk te kan doen sonder om onder 'n berg van dossiere te versmoor. En ons gemeenskappe verdien geregtigheid.