'Ontnugter', George:
Wanneer ’n mens by aftrede kom is daar drie belangrike aspekte wat in ag geneem moet word. Dit is finansies, gesondheid en waar jy gaan woon. Gewoonlik, en ook in my geval, het ek nie aandag gegee aan woonplek nie. Wonder hoeveel afgetredenes gee regtig daaraan aandag.
Ek en my vrou was reeds ’n paar jaar afgetree en heel tevrede met ons woonplek. Sy daarenteen wou dat ons die huishouding kleiner maak. Voordat dit kon gebeur, is my vrou oorlede. Daar is toe aanbeveel dat ek na George kom.
Eerste ding wat my getref het, was die hoë, eintlik kranksinnig hoë pryse van blyplekke. Wat ook uitgestaan het, is die netjiese en skoon aftreeoorde, dorp en vriendelikheid van mense. Ek het nie verder ondersoek ingestel of navraag gedoen oor enigiets om meer te wete te kom van die dorp nie. Dit was ’n fout.
By een van die oorde wat in werklikheid vier, eintlik vyf, aparte dele is, het ek blyplek gekry. Huur ’n groot genoeg en mooi huisie. Woon nou net meer as twee jaar hier. Die afgelope tyd terwyl ek alleen soos ’n uil op ’n kluit in my huisie moes deurbring, is toe dat ek verder begin dink en alles rondom my in aanmerking neem.
Van hier waar ek woon, stap ’n mens een kilometer tot by die hoofingang van die oord. Stap vandaar nog een kilometer, en jy gaan by drie aftreeoorde en een halfgeboude huis verby. Dan nog een kilometer en ’n verdere drie aftreeoorde. ’n Entjie oorkant die groot straat is daar nog ’n groot aftreeoord.
Ten minste tien binne drie kilometer van mekaar met geen gewone huis tussen in of naby nie.
Al die aftreeoorde is netjies en word goed versorg. Baie van die huisies is aan mekaar soos skakelhuise. Uit die lug het iemand vir my gesê lyk almal soos ’n netjiese plakkerskamp. Die reëls van ’n ouetehuis en die fasiliteite verskil nie veel van dié van ’n aftreeoord nie.
By nie een van die tien aftreeoorde is daar, sover ek kon sien, enige buitenshuise ontspanningsfasiliteite nie. ’n Rolbalbaan, tennisbaan, jukskeibaan of swembad of kroukiebaan sou nogal iets beteken het vir die inwoners om hule gesond en fiks te hou. Binnenshuise sport - pluimbal, snoeker, veerpyltjies, matrolbal en vele ander?
Byeenkomste waar ek woon, bestaan uit ’n jaarliks georganiseerde stap waar ’n klomp mense eerder wandel - dalk een of twee kilometer terwyl ander ’n paar kilometer ver stap.
Die dorp George is wat my betref nie ’n “lewendige” plek nie. Verkeer is “gehoorsaam” en voertuigbestuurders is geduldig en gee voorrang as ’n mens in verkeer wil inkom of wil draai. ’n Plesier om hier met jou voertuig te ry. En by die winkels is die mense vriendelik en hulpvaardig. Mediese fasiliteite en medici is van hoë standaard. Is dit al wat ek van die dorp kan sê?
Nee, die dorp is netjies, word goed bestuur en die omgewing is mooi. Maar ek wil nie dag in en dag uit na die mooi berge en omgewing sit en kyk nie. Ek wil aan aksies deelneem. En dalk is my oë en ore toe, maar ek weet nie van veel dinge wat hier aangaan/gebeur nie. Ek verwys nie na sportklubs nie.
Daar is nog veel meer lewe en skop in my as om net baie - en ek bedoel baie - tyd op my eie en alleen in my huisie te spandeer. My stamvader het in 1812 na George gekom. Hy was die eerste onderwyser, geneesheer en koster hier. Ek het die ontstaangeskiedenis van die dorp deeglik nagevors. En as ek nou mooi dink, sou ek eerder destyds as nou hier wou bly en woon. Daarom oorweeg ek dit baie sterk om terug te gaan waar ek vandaan gekom het.
Ek aanvaar baie sal my kritiseer oor wat ek sê. Dit is u reg. Sou graag wou hê u moet my verkeerd bewys en nie net lukraak kritiseer nie.
En moenie vertel van watter en soorte sportklubs hier is nie. Dit weet ek. Noem eerder watter kulturele dinge en ander byeenkomste/feeste/saamtrekke en sulke dinge hier aangebied word.
George as dorp het, soos ek verstaan, oor die laaste tien jaar aansienlik uitgebrei. Wat se uitbreiding het plaasgevind behalwe meer en meer afgetredenes vir wie voorsiening gemaak word en ’n groot nuwe kliniek wat gebou word? Hier is ekonomies gesproke baie voete, maar het die koopkrag dienooreenkomstig toegeneem?
George het en is nou ’n mekka vir afgetredenes wat nie meer belangstel om dinge te doen en te laat gebeur nie. Daarvan het ek ondervinding. En by gebrek daaraan het ek nou genoeg gehad.