Ernst du Plessis:
Ek verwys na die brief deur Elmine Botha, "Boemelaars op buurman se eiendom", in George Herald van 6 Maart.
Dit wil voorkom asof George-munisipaliteit nie hul eie verordeninge ken nie of nie ten volle wil toepas nie. Hulle fokus net op die skoonmaak van die erf, wat slegs 'n gedeelte van die probleem is.
In George-munisipaliteit se By-law relating to the Prevention of Public Nuisances and Fines List, word daar uitgespel wat 'Public Nuisances' is en watter boetes hiervoor gehef kan word.
Vir die munisipaliteit om te beweer dat hulle geen mandaat het om op privaat grond op te tree nie, is nie korrek nie. Die genoemde verordening handel dan juis oor hoe die munisipaliteit op enige eiendom, teenoor hierdie oortredings mag optree.
Dit kom daarop neer dat die erfeienaar verantwoordelik gehou word vir enige ontoelaatbare gedrag van betreders en vir die gebrek aan sodanige instandhouding van die erf, om te verhoed dat betreding plaasvind nie. Die erfeienaar het byvoorbeeld nagelaat om die eiendom ten volle te omhein en skynbaar geen sekuriteitsmaatreëls in plek om betreding te help voorkom nie.
Beboet die erfeienaar in 'n poging om hom te dwing om die eiendom doeltreffend te beveilig.