Elmine Botha, George:
Ek is al raadop en dit is hoekom ek hierdie e-pos skryf. Die erf te Victoriastraat 65 staan al vir etlike jare leeg. Ons het altyd 'n probleem gehad met mense wat snags daar slaap, maar die een buurman wat langsaan gewoon het het hulle altyd verwyder.
Vandat hulle getrek het, is die mense toenemend besig om feitlik elke nag op die oop erf te slaap en in die middel van die nag lawaai te maak.
Hulle het verlede week 'n vuur gemaak reg in die hoek aan die agterkant tussen die woonstelgeboue.
Dit is waar hulle ook slaap. Toe was die gras menshoogte. Ek het die brandweer gekontak maar toe hulle die rooi ligte sien, het hulle net die vuur geblus en weggekruip.
Ek het al met Sean Snyman gepraat en nadat ek 'n kontak by die munisipaliteit gekry het en 'n e-pos gestuur het, is die erf na etlike maande weer 'n slag skoongemaak.
Ek het die polisie al herhaaldelik gebel. Hulle reaksie is dat hulle nie verwyder kan word nie.
Ek het wetstoepassing ook gebel, ook geen hulp.
En dit is hoekom ek nou raadop hierdie brief aan George Herald stuur. Dalk het julle 'n kontak om te sorg dat die erf toegemaak word of dat die mense verwyder word wat snags daar slaap. Of alternatiewelik vir my 'n kontak gee met wie ek kan praat.
George-munisipaliteit het soos volg gereageer:
Volgens Delia Power, waarnemende direkteur: beplanning en ontwikkeling, kan die George-munisipaliteit geen persoonlike inligting oor eienaarskap aan die media of klaer verskaf nie.
As hulle [die boemelaars] inbreuk maak op enige van ons verordeninge, kan ons 'n kennisgewing deur ons aangestelde prokureurs bedien. Daar is geen oortreding in terme van ons beplannings- of boubeheerverordening nie.
'n Kennisgewing is op 29 Oktober 2024 uitgereik om die eiendom teen 14 November 2024 skoongemaak te kry. Die skoonmaak van die eiendom is deur munisipale omgewingsdienste gereël in die week van 10 Februarie 2025 nadat 'n e-pos aan die eienaars gestuur is om hulle in kennis te stel van die klagte.
Dit is privaat eiendom en daarom het die munisipale wetstoepassing geen mandaat om daar op te tree nie.