DC Steyn skryf:
Daar is fout met Statistieke Suid-Afrika se inflasiekoers.
Dit gaan my verstand te bowe dat my pensioenfonds Sentinel Aftreefonds op 'n jaar-tot-jaar inflasie van 3% werk. Dit om ons pensionarisse se jaarlikse verhoging in pensioen te bepaal. 3% was die jaarlikse verbruikersprys inflasie wat Statistieke Suid-Afrika in Junie 2025 gepubliseer het.
3% inflasie is 'n grap!
Sentinel Aftreefonds het ons pensioenarisse 'n verhoging van 3,5% toegestaan ... 0,5% meer as die inflasiekoers van 3%. TWAK storie! Statistieke Suid-Afrika se 3% is hopeloos verkeerd. Die werklike lewenskoste inflasie is maklik 9% per jaar! My pensioen verhoging van 3,5% is nie 0,5% meer as die lewenskoste inflasie nie ... dis 5,5% minder!
Suid-Afrika se lewenskoste inflasie is 9% ... nie 3% nie.
Voedsel: Gebaseer op data van Statistieke Suid-Afrika en die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP), het Suid-Afrika 'n kumulatiewe voedselprysstyging van meer as 40% tussen 2020 en 2025 ervaar.
• 40% oor 5 jaar = 7% per jaar saamgesteld.
Blyplek: Huur verhoog 10% elke jaar.
• 61% oor 5 jaar = 10% per jaar saamgesteld.
Elektrisiteit: Die Competition Commission sê: Oor die vyf jaar periode, 2020 tot 2025 Maart, het elektrisiteitspryse met 68% gestyg.
• 68% oor 5 jaar = 10,9% per jaar saamgesteld.
Petrol: Die prys van 95 loodvrye petrol in Gauteng het gestyg van R15,20 per liter in Maart 2020 tot R21,55 per liter teen September 2025 ... 'n toename van 42%.
• 42% oor 5 jaar = 7,3% per jaar saamgesteld.
Drank: In 2020 het ek R20 betaal vir 'n Hunters Gold by ons plaaslike kroeg. Nou kos dit my R32. Dis 'n verhoging van 60% in vyf jaar.
• 60% oor 5 jaar = 9,9% per jaar saamgesteld.
Dis so duidelik soos daglig dat ons lewenskoste inflasie 9% per jaar is ... alles behalwe die onlogiese 3% van Statistieke Suid-Afrika. Met 'n verhoging van 3,5% op my pensioen, is ek 5,5% armer as laas jaar. Hoe dit ook al sy, ek is dankbaar vir die verhoging.
Daar is fout met Statistieke Suid-Afrika se somme. Dit klink vir my asof hulle die prys van ystererts ook in berekening bring. Ek ken niemand wat ystererts eet nie.
Lewenskoste inflasie is nie 3% nie ... dis 9%.