ENTERTAINMENT NEWS - George se trotse tuiste van musiek en sosiale bederf, die Bush Lapa, bied op Vrydag 24 November sy volgende topklaskunstenaar aan, naamlik Wicus van der Merwe!
Wicus van der Merwe is 'n alombekende sanger, komediant, TV-aanbieder en afslaer.
Hy het bekendheid verwerf met treffers soos Hie komme ding, Spietkop, Vat hom Pappie en nog vele meer, asook as aanbieder van kykNET-programme soos Opskop (waar hy aanbieder was vir twee jaar), en Jou Show saam met Emo Adams vir die afgelope vier jaar.
Wicus het ook al programme soos Jukebox en Fiësta aangebied by meer as een geleentheid.
Hy het tot op datum sewe CD-albums uitgereik, naamlik Hie komme ding, Annatjie my 4x4, Vat hom Pappie, Hooit!, Al my hiets, Popster en die nuutste toevoeging, Songs uit Botterblomstraat.
Hy spog ook met twee DVD's (Hie komme ding live en Spietkop live) in sy versameling. Vier van sy albums het reeds goue status bereik.
Twee het hom Sama-benoemings besorg, en hy het 'n Tempo-toekenning vir beste komedie-album asook 'n Ghoema-toekenning vir beste humoralbum vir sy 2015 CD, Popster ontvang.
Hy het twee keer as seremoniemeester by Skouspel opgetree, een van Suid-Afrika se grootste musiekkonserte.
Wicus is een van die min kunstenaars in Suid-Afrika wat sang, storievertel en komedie saamweef in 'n vertoning wat gehore aan sy lippe laat hang.
Wicus se vertonings beloof 'n aand van lekker lag, ontspan en genot wat dit dan ook 'n uitstekende opsie vir enige kantoor se jaareindfunksie maak.
Kontak die Bush Lapa by Herold's Bay Resort vir besonderhede hieroor.
Moet sy vertoning nie misloop nie.
Kaartjiekostes wissel tussen R100 en R140 en is beskikbaar deur n e-pos te stuur aan die eienaar, KD Fourie by admin@heroldsbayresort.co.za of kontak hul kantore vir verdere navrae by 044 851 0113.
Die Bush Lapa by Herold's Bay Resort vier vanjaar die 10de bestaansjaar van die immers gewilde Bush Lapa Musiekfees.
Vanaf 20 tot 31 Desember tree van ons land se topmusikante op, waaronder Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Prime Circle, Adam Tas, Arno Carstens, Ray Dylan en Chris Cameleon.
Kaartjies is nou reeds aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'