KLEIN KAROO NUUS - “Ter viering van die Vrouedag-langnaweek in Augustus, kan klassieke musiekliefhebbers by die 11de Klein Karoo Klassique musiek deur uitsonderlike vroue geniet.”
So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn wat van Donderdag 8 tot Sondag 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied word.
'n Galakonsert, ter viering van Vrouedag word op 10 Augustus aangebied. Die Kaapse-mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce, TV-persoonlikheid en Kunste Onbeperk Jong Stem-vereerde Lynelle Kenned en Janel Speelman, wat tot onlangs in die VSA gewoon en opgetree het, is hierin te sien, met klavierbegeleiding deur Philippus Hugo.
Klassique begin op 8 Augustus om 18:30 wanneer twee vroue in La Femme! – A Celebration of Music and Dance kragte saamspan.
Tanya Diamond (dans & choreografie) en Nina Fourie-Gouws (kitaar) kombineer die passie, geesdrif en intensiteit van outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die warm, komplekse, sensuele klanke van klassieke kitaar. Diamond is ’n internasionaal-bekroonde danser en choreograaf en Gouws, ’n konsert-kitaarspeler en lektor aan die Stellenbosch-konservatorium.
In Trio du Cap Classique (Vrydag 9 Augustus om 10:30) kombineer die internasionaal-bekroonde fluitspeler Liesl Stoltz, werke vir fluit, tjello en klavier.. Bekende Suid-Afrikaanse pianis François du Toit en Franse tjellis, David Pinoit sluit by haar aan.
Zanta Hofmeyr (viool) en Olive Sandilands (klavier) snoer hulle talent saam met Miro Chakaryan (viool) in die Fiësta-bekroonde Violin Dialogue, wat ook die beste klassieke musiekproduksie by Aardklop in 2018 was. Werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski word gehoor.
Violin Dialogue is Saterdag 10 Augustus om 10:30 te sien.
“Feesgangers kan, danksy die ondersteuning van die Rupert-musiekstigting, met die Klassique Pakket teen slegs R950 al die uitvoerings by die fees geniet teen ’n besparing van R240,” sê Theart.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket,
Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Tuinroete, Hessequa nuus'