GEORGE NUUS - Die uiters gewilde Ramon Alexander Trio bied Vrydagaand ’n konsert van Kaapse jazz in die Markteater aan.
Dié trio, wat al verskeie kere vol sale hier in George getrek het, se unieke musiek is ’n kombinasie van jazz-improvisasie en Morawiese gesange, eg-Kaapse inheemse ritmes soos ghoema, en Khoisan-musiek.
Alexander, die leier van die trio, het as wynmaker gekwalifiseer, maar sy liefde vir jazz het die oorhand gekry en vandag is hy ’n voltydse jazz-pianis en komponis. Die tromspeler, Annemie Nel, se vaardigheid is sentraal tot die groep se besonderse klank, en die bekroonde Dadleigh Gowar voltooi hul klank op die basviool.
Die trio is gewild by groot jazzfeeste soos die Cape Town International Jazz Festival en die Borneo International Jazz Festival.
Die konsert vind Vrydagaand, 17 April om 19:30 in die Markteater in Markstraat plaas.
Kaartjies kos R170 vir die publiek, R50 vir leerders en R120 vir musiekvereniginglede.
Moenie hierdie konsert misloop nie! Koop vandag nog jou kaartjies by www.georgemusicsociety.co.za of Vrydagaand by die teater.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’