GEORGE NUUS - Die George-musiekvereniging bring op Dinsdag 31 Maart iets besonders na George-gehore: susters Lizanne Barnard en Anne-Marie van Eeden saam in konsert.
Die konsert sluit klavierduette van Mozart, asook ook duette van hul eie komposisies en die meesleurende klanke van Norah Jones en Astor Piazolla in.
In Twins in Tune neem die susters die gehoor op ’n musikale reis waar hul gesamentlike agtergrond en die band tussen hulle sterk na vore kom, aangevul deur die lighartige en boeiende stories wat hulle vertel.
Hulle eiesoortige kombinasie van stem, klavier, akkordeon en fluit is ’n ervaring wat lank onthou sal word.
Die twee het op vyfjarige ouderdom klavierlesse begin neem en sommer gou het hulle as ‘die musikale tweeling’ begin bekendstaan.
Na skool het hulle musiek studeer, waarna hulle op verskillende vastelande loopbane as solokunstenaars in komposisie en sang volg, en ook verskeie studio-albums opneem.
Hulle het ook ’n paar gesamentlike produksies in Switserland en Frankryk gedoen, waaronder Twee Halfronde, Totally Twins en Twins in Concert.
Gehore dwarsoor Europa is betower deur hul suiwer samesang en hul unieke fusie van klassieke en eietydse invloede.
Die tweeling sien uit daarna om Twins in Tune met plaaslike gehore te deel.
“Ons verstaan mekaar op emosionele en musikale vlak,” sê hulle. “ Hierdie toer vier ons gedeelde wortels en die blywende krag van musiek.”
- Die konsert vind op 31 Maart by die Markteater plaas. Kaartjies kos R120 vir musiekvereniginglede, R170 vir nie-lede en R50 vir leerders en kan by die teater asook via www.georgemusicsociety.co.za bekom word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’