Soos een van die dirigente tereg na afloop van die konsert opgemerk het: "Hierdie musiekleerders is gewis ongelooflik. Dit wil gedoen wees om met so ‘n gepoleerde optrede vorendag te kom ná letterlik net ‘n paar oefensessies."
Die voordrag- en dansitems is begroet met geesdriftige applous, maar dit was veral die optredes van die Jazz-orkes en die Simphonic Wind Ensemble wat luide toejuiging en ritmiese handegeklap ontvang het. Die repertoire het klassieke items ingesluit, asook ligte nommers soos Waiting for Phoebe en die dramatiese temalied van die film Spiderman.
Die 481 leerlinge wat deelgeneem het aan dié tweede nasionale kuns- en kultuurfees vir hoërskole is aangemoedig om self die regie te behartig van items wat opgevoer is. Dit het dans, kuns, voordrag en verskillende genres ingesluit - alles met die tema van water. Die leerders was uiters verbeeldingryk en Hoërskool Outeniqua se hoof, Christo Vorster was verstaanbaar trots op die feit dat die skool as baanbreker optree in die bevordering van die kunste.
‘n Inspirerende boodskap is ook oorgedra deur dr. Jerome Slamat, direkteur van ge-meenskapsinteraksie van die Universiteit van Stellenbosch wat in sy toespraak gesê het dat die een manier om interaksie en aansluiting tussen mense te bewerkstellig, deur die uitvoerende kunste is. "Hoërskool Outeniqua het as vlagskip die weg gebaan met die Kaleidoskoop-werkswinkels, waar baie vermag is om waarde toe te voeg tot die onderrig in die uitvoerende kunste," het hy gesê. "Daar is ook die potensiaal om dit nog veel verder uit te brei. Our children are heirs of our culture and they deserve the best. Die universiteit is trots daarop om hiermee geassosieer te wees."
Berrie Botha, HUB van die hoofborg Sanlam Trust, sê hy sal graag wil sien dat Hoërskool Outeniqua bemagtig word om die Kaleidoskoop verder uit te brei en dat die Suid-Kaap die mekka van kuns en kultuur moet word.
(1).jpg)
(1).jpg)