Die splinternuwe realiteitskookkompetisie van 13 episodes gaan leersaam en opwindend wees, soos verlede week Donderdag se eerste aflewering reeds getoon het.
"'n Mens se senuwees knaag maar, want jy weet nie waarvoor jy jou inlaat nie," vertel Trudie met 'n borrellag. "Ek mag niks verklap oor die verloop van die volgende episodes nie, maar kan wel noem dat daar 'n verrassing wag, en dat ek 'n prys gewen het."
Trudie wat 'n graad in drama het, en die eienaar van 'n dramaskool, Trudie Niehaus Woordkuns in George is, sê dit lyk asof sy 'n vloermoer in die voorskou van die program gooi, maar dit was glad nie so nie. Sy was effens gespanne en die kameraspan het op die verkeerde oomblik met haar kom lol, toe sy moes konsentreer op haar pastei wat nie moet brand nie.
Wat in haar guns tel is dat sy boereresepte uit haar kop ken en 'n instinktiewe aanvoeling vir kos maak het. Dit is wat haar gehelp het tydens die uitdunrondes. Sy het onder andere 'n vinnige pannekoekdegie aanmekaar geslaan, en toe dit gaar is kleurvol opgedis met appelliefies sowel as 'n vulsel van heerlike soet appels. Sy is gekies uit honderde mededingers, en is een van die 10 Onthoukokke. Dis nou die kokke wat nie net met herinnering en nostalgie kook nie, maar ook ons diepste verlange en hartskos treffend kan aanbied.
Elk van die 10 Onthoukokke word opgepaar met elk van die 10 Kinkelkokke wat professionele en innoverende sjefs is. Die geliefde TV-aanbieder Mariëtta Kruger het reeds in die eerste aflewering van die program verduidelik dat die "paring" daartoe sal lei dat tradisionele disse met 'n moderne kinkel aangebied sal word.
Die opnames is gedoen in die prag Karoodorp Prins Albert, en groot pryse kan gewen word. Die Kokkedoor-program word Donderdae om 20:00, Vrydae om 15:00, Saterdae om 16:30, Sondae om 22:30 en Maandae om 09:30 uitgesaai. Hetta van Deventer Terblanche, die koshistorikus en tradisiekenner en Nic van Wyk is van die beoordelaars.
Kuierhuis
By haar gesellige huis wat uitkyk op die inheemse bosse, hou Trudie katte en 'n hond aan, terwyl die eende rondwaggel in die tuin waar ook hoenders rondpik. In haar oopplan-kombuis is 'n hele ry ingelegde groente en vrugte, en op die stoof prut 'n dis, sodat sy kan wys hoe sy boerewors met 'n kinkel voorsit met spaghetti en tuisgemaakte tama-tiesmoor van tamaties uit haar tuin.
Sy vertel van die kookboek wat sy en mede-Suid-Afrikaners opgestel het, terwyl hulle in Australië gewoon het. Sy toon trots die familiekookboek wat een van haar kosbaarste besittings is saam met haar familiebybels, pragtige antieke kaste en ander besonderse antieke meubels dwarsdeur die huis. Dié woning is 'n salige plek van stilte vir haar en haar psigiater man, Pieter Swanepoel, asook vir hulle dogter Siné (26), as dié kom kuier om weer 'n slag lekker te kan eet!

Trudie Niehaus, 'n uithalerkok van Wildernis, toon haar staal as mededinger in kykNET se Kokkedoor realiteitprogram. Hier is sy doenig in haar gesellige kombuis. Foto: Pauline Lourens
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS