Die trio bestaan uit Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (bas) en Hugo Radyn (tromme). Die sanger Musa Sakupwanya het ook by die trio aangesluit vir 'n paar uitsonderlike nommers met Summertime van Gershwin as een van die hoogtepunte van die vertoning waarvoor die gehoor beslis gewag het.
Die balans en begrip tussen die lede van die trio was so natuurlik dat dit vanselfsprekend geword het. Daarby is al die gewilde nommers wat beloof is, met geesdrif en humor aangebied. Jazz in die vroegoggend het nog nooit so natuurlik gevoel nie, dit was byna asof die trio en gehoor regtig die heelnag deur gekuier en musiek gemaak het, soos Du Plessis in sy verwelkoming geskerts het. Die humoristiese aanslag waarvoor hy so gewild is, was sommer vroeg reeds op volle sterkte!
Die weergawe van Rhapsody in Blue is spesiaal vir die trio verwerk deur Du Plessis en al drie het die dawerende applous verdien wat gevolg het. Dit is tegnies 'n uiters moeilike klavierstuk. Die ontvangs hiervan deur die gehoor was beslis 'n triomf vir die driestuks, ook omdat dit so 'n bekende werk is. Die splinternuwe verwerking was egter dinamies en verrassend wat dit so vars laat klink het soos dit in 1924 moes geklink het toe dit oorspronklik deur Gershwin as 'n werk vir solo klavier en jazz-orkes uitgevoer is. (Die verwerking vir volle simfonie-orkes is later dieselfde jaar deur Ferde Grofé gedoen.) Hierdie werk het Gershwin se reputasie as ernstige komponis help vestig.
Die Charl du Plessis Trio is in 2006 gestig en het hul eerste album 2007 bekend gestel. Daar is seker min plaaslike musici wat so hardwerkend en gedissiplineerd as Du Plessis is. Daarvan getuig die vol program wat die res van die jaar voorlê vir die trio sowel as ander musiekprojekte. Goeie nuus vir die inwoners van die Suid-Kaap is dat die Charl Du Plessis Trio teen Junie vanjaar weer hier in 'n paar konserte hier sal optree - hou dus die George Herald dop vir besonderhede.
Vir diegene wat die optredes by die KKNK misgeloop het - is daar 'n tweede kans om uitmuntende musiek te beleef. Maar julle sal moet gou speel om kaartjies weg te raap voor dié wat reeds daar was.

Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (bas) end Hugo Radyn (tromme) en sanger Musa Sakupwanya (voor) het die gehoor bekoor met hul Gershwin-vertolkings. Foto: Pauline Lourens