Video
GEORGE NUUS - 'n Nuwe dansskool vir kinders in Pacaltsdorp, waar hulle straatdansstyle kan aanleer, het onlangs sy deur geopen.
Die eienaar van JJM Art of Dance School, Jonathan 'Jonty' Martin, is al langer as 'n dekade van dwelms gerehabiliteer en het sy passie vir hierdie dansgenre ontwikkel omdat dit deel was van sy helingsproses.
"Dis fisies baie uitdagend, 'n mens word heeltemal daarin opgeneem," vertel hy.
"Dis uitstekend vir kinders se koördinasie en ontwikkeling en bied 'n kreatiewe uitlaatklep in 'n omgewing waar daar 'n tekort aan opbouende aktiwiteite vir hulle is.
"Die dans het my gehelp om my liggaam skoon te kry van die toksiene van dwelms en ek was verplig om my eetgewoontes aan te pas, want jy kan nie dans as jy nie na jou liggaam kyk nie. Ek het so baie daaruit geleer en ek wil my lewenslesse aan die jeug oordra."
Dis ook sy doel om ouers aan te moedig om meer betrokke te raak by hul kinders; dus het hy 'n Zumba-fiksheidsklas twee keer per week vir ma's begin.
"Deur die ma's ook te betrek, ontstaan daar 'n gedeelde belangstelling tussen ouer en kind wat die hegtheid van die gesin kan bevorder. Die skool is nog maar nuut, maar dit lyk asof dit ook van die pa's se aandag trek," sê Martin.
Perkussieklasse
Hy is ook 'n kletsrymer wat djembe-tromme bespeel en beoog om perkussieklasse aan te bied vir die kinders wat nie in die dans belangstel nie.
"Tromme is baie keer 'n goeie manier vir kinders met onverwerkte woede om uiting te gee aan hul gevoelens.
"Musiek het 'n boodskap en ek wil hulle bewus maak van die krag daarvan. Elke kind word met sekere talente gebore en ek wil dié wat belangstel, graag uitdaag en help om dit te ontdek en ontwikkel.
VIDEO: George Herald was daar tydens klastyd
"Die idee is ook om hulle uiteindelik bloot te stel aan die verhoog sodat hulle hul stories deur dans aan gehore kan vertel."
Martin het al by verskeie skole in George dansklasse aangebied. By een laerskool het hy die hele personeel, die administratiewe mense inkluis, 'n dansreeks geleer vir 'n opname wat baie aandag op sosiale media getrek het. Hy het al as beoordelaar by danskompetisies opgetree en self 'n paar gewen.
Ouers wat hulle kinders teen 'n nominale fooi vir die klasse wil inskryf, kan Martin by 068 226 3915 kontak.
Die klasse word aangebied by die Pacaltsdorp African Gospel Mission Church (oorkant Hypersave).
VIDEO: Jonty Martin en ander dansers tree op
Die eerste dans word stap-vir-stap geleer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’