Hulde is ook gebring aan Jans Rautenbach wat op meesterlike wyse in die sestiger jare baanbrekerswerk op die gebied van Afrikaanse films gedoen het.
KykNET se hoof, Karen Meiring het hom geloof vir die rol wat hy deurentyd gespeel het as beskerm-heer van die kunste, en veral sy bydrae tot die KKNK se bevorde-ring in die negentigs. "Jans, jy is 'n groot gees wat die waagmoed gehad het om nuwe tegnieke en kontroversiële temas op filmgebied aan te pak, maar ook op so baie ander gebiede," het sy hom geloof. "Dis een ding om 'n droom te hê, maar om gestalte daaraan te gee is 'n prestasie. Deur die vestiging van die skooltjie, Vlakteplaas UCC Laerskool het jy 'n modelskool geskep waarop ons almal kan trots wees, en so ook 'n voorbeeld gestel aan privaat instansies wat ophef-fingswerk wil aanpak."
(Meiring het die vorige dag saam met die KykNET-span besoek afgelê by die skool op Jans se plaas.)
Die fees word vanaf 5 Augustus landswyd aangebied deur KykNET in samewerking met NuMetro. Toyota het R500 000 se borgskap belowe, het Meiring aangekondig. Beide Meiring en Danie van der Merwe van NuMetro het verwys na die opbloei wat Afrikaanse films tans beleef. Die filmfees het uiteindelik ten doel om die volhoubaarheid van ‘n gesonde Afrikaanse filmbedryf te stimuleer sodat nog groter hoogtepunte bereik kan word.
Films soos My Broer se Bril (regisseur Dirk de Villiers), Babbelkous (regisseur Koos Roets), Katrina (Emil Noval tesame met Rautenbach), Die Bankrower (met Marius Weyers en Sandra Prinsloo, en Manie van Rensburg as regisseur) en Môre, Môre, sal vanaf 5 Augustus begin draai.
Dit was heel gepas dat 'n voorskou van die dokumentêre reeks Daar Doer in die Flieks aangebied is in die pragtig gerestoureerde Jans Rautenbach Schouwburg op Prins Albert. Ons eie ‘filmghoeroe’ Leon van Nierop is die aanbieder en meesterbrein agter die reeks wat hoofsaaklik fokus op Afrikaanse rolprente, met Jamie Uys se twee films Beautiful People en The Gods must be crazy as uitsondering.
Van Nierop se navorsing op die gebied van Afrikaanse rolprente is een stap verder geneem deur Christa en Johan Lategan wat sy onderhoude met Suid-Afrikaanse regisseurs, akteurs en beeldmateriaal van premières ingewerk het in dié dokumentêr.
Eerste klankbane
Insetsels van Suid-Afrika se héél eerste films wat gemaak is toe daar vir die eerste keer klankbane was, is deel van hierdie omvattende reeks van 26 aflewerings. Selfs die eerste komedies met Al Debbo en Fre-derick Burgers kom daarin voor.
Die drie episodes van Daar doer in die Flieks wat vertoon is, het my skoon nostalgies laat voel en my laat verlang om weer van die goue oues te sien. Jamie Uys se droë sin vir humor vermaak steeds.
In Jans Rautenbach se Die Kandidaat het die beeldskone Mari du Toit haar eerste dramatiese rol gekry. Films waarby Jans betrokke was, soos Kimberley Jim en Wild Goose, word kortliks deur Leon ontleed. Katrina, met Jans as regisseur, word vandag nog as 'n mylpaal in die bedryf beskou - met die tema Suid-Afrika se onregverdige rassebeleid onder apartheid. Jans se film Blink Stefaans is op DVD beskikbaar.
Na afloop van die voorskou het Jans die vervaardigers van Daar Doer in die Flieks geprys vir die belangrike werk wat hulle doen om die Afrikaanse filmbedryf te dokumenteer. "Dis die begin van iets groots en daar kan net verder op voortgebou word."
Die Lategans het nog heelwat werk voor met etlike episodes wat nog gefinaliseer moet word. Ongelukkig is daar nie 'n NuMetro-bioskoop in die Suid-Kaap nie (die naaste een is in Worcester se Mountain Mill Mall en Canal Walk in Kaapstad), so plaaslike fliekvlooie sal die DVD's wat KykNET en NuMetro versprei, in die hande moet kry of die KykNet-reeks Daar Doer in die Flieks kyk op Donderdagaande om 20:30.
(1).jpg)
Laetitia van Dyk, eienaar van die Jans Rautenbach Schouwburg wat gesorg het dat Prins Albert se eerste bioskoop omskep is in 'n meerdoelige byeenkomsplek, en Johanna Luttig wat die spyseniering behartig het.
.jpg)
Gunda Brummer (skryfster) en haar man, Michael Brummer (akteur wat op Prins Albert woon), Lydia Barrella, kurator van Prins Albert se museum, en Denise Ohlson by die bekendstelling van die KykNET/NuNetro Silwerskerm Filmfees op Prins Albert.