GEORGE VERMAAK-NUUS - 'n Konsertreeks wat musiekliefhebbers gaan bederf met van die room van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld, word vanjaar vir die 11de keer aangebied by Herold's Bay Resort se gewilde Bush Lapa-venue - die tuiste van musiek in die Suid-Kaap.
KD Fourie, skepper van die Bush Lapa se jaarlikse musiekbonanzas wat groot gehore hierheen lok, het sewe fenomenale shows van 14 tot 31 Desember om na uit te sien.
Die program skop af op 14 Desember met Radio Raps gevolg deur Prime Circle op 19 Desember, Bok van Blerk (21 Desem-ber), Matthew Mole (26 Desember), Bobby van Jaarsveld (27 Desember), en Jay en Karlien van Jaarsveld (29 Desember).
Die reeks sluit die jaar op 'n hoogtepunt af met 'n gesellige Oujaarsaandpartytjie op 31 Desember met Jakkie Louw en Pieter Smit as gaskunstenaars.
Terwyl die Bush Lapa kook met die konsertreeks, gaan die Down to Earth-restaurant, die vlagskipvenue van die Herold's Bay Resort, daagliks oop wees vir ontbyt en middag- en aandetes.
Die restaurant is bekend vir sy alomvattende spyskaart met geurige disse. In die somer is die dek met sy seeuitsig en Mosselbaai se liggies in die verte saans 'n lafenis vir die siel.
Daar sal daagliks live music wees van 12:00 tot 15:00 asook 'n daaglikse jenewer-, whisky- en brandewynproe. Buitelugaktiwiteite word ook spesiaal vir die kinders aangebied.
Gunstelingvenue
Die Bush Lapa het gegroei van 'n 90-sitplek boskroegie tot die trots van die Suid-Kaap en 'n gunstelingvenue onder die voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars sowel as die plaaslike inwoners asook besoekers van heinde en ver.
Daar is intieme interaksie tussen die kunstenaar en die gehoor. Die familievriendelike atmosfeer maak dit 'n uitstappie vir die hele gesin. Smaaklike etes, soos onder andere Chef Noddy se geurige en waarde-vir-geld potjiekos, sowel as ander ligte etes word bedien. Daar word tot laat saam gekuier om die vuurherd - nou al 'n kenmerkende aantrekkingskrag van die Bush Lapa.
Kaartjies vir die vertonings is vanjaar baie maklik bekombaar deur www.webtickets.co.za, by die Herold's Bay Resort se ontvangs self, by enige Pick n Pay-tak in Hartenbos, Mosselbaai en George met 'n Money Market-toonbank, en by die Bush Lapa se kaartjies-kiosk by die Eden Meander Lifestyle Centre.
Kontak Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur jou navrae aan admin@heroldsbayresort.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'