GEORGE NUUS - Ons het lag meer nodig as ooit tevore en dit is presies wat die komedie Laerskool Noord ten doel het: om jou te laat rol van die lag.
Margit Meyer-Rödenbeck is die netbalonderwyseres. ’n Ongeslypte diamant. Ilne Fourie is die gr. 2-onderwyseres en probeer haar bes om net die vrede te bewaar, maar haar aanhoudende gebruik van verkleinwoordjies het die teenoorgestelde effek. Marion Holm het die heel bontste kaftan aan, want sy is die Drama-juffrou.
Die drie is in die personeelkamer, wagtende dat die skoolhoof (Neels Coetzee) met hulle moet vergader om aan te kondig wie die nuwe skoolhoof gaan wees wanneer hy aftree.
Maar vóór Meneer opdaag, wil hulle gou klaarpraat oor die verrassingsafskeidpartytjie wat hulle vir hom reël. Nou, as drie sulke uiteenlopende mense in een ruimte saamgegooi word en effe onder druk is om ’n ding vinnig en geheimsinnig te reël, is komedie al wat kan volg.
Laerskool Noord het reeds uitverkoop op elke fees waar hulle gespeel het en op Litnet skryf Maryke Roberts: "Ek kan nie sê wie van die drie juffrouens my die lekkerste laat lag het nie. Elkeen het hulself só goed in hul rolle ingeleef dat my lojaliteit deurentyd geskuif het.
Wat wel seker is, is dat ek hierdie stuk nog ’n keer sal kan gaan kyk, want dis die lekkerste lag-en-ontspan-uur wat ek in ’n lang tyd ervaar het.” Die skool se leuse is nie verniet 'Kyk noord en stoot voort' nie!
Die stuk word op Donderdag 9 November in die George-kunsteteater opgevoer. Die kroeg maak om18:30 oop en die vertoning begin om 19:30.
Kaartjies kos R200 elk by Computicket. Groepe van 10 of meer se kaartjieprys is R175 elk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’