Ao. Borg is vir die afgelope 26 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en sedert 2003 aan die George GKS-eenheid verbonde. As 'n ondersoekbeampte wat op 'n daaglikse basis van 08:00 tot 16:00 met veeleisende sake te doen kry, moes hy 'n manier vind om sy kop na uitvaltyd weg van die werk te kry.
"Glo my, om te kan skilder is die wonderlikste stresverligter," het Borg gesê.
Sedert hy twee jaar gelede by tannie Martie le Roux van The Artshop in Joubert Plaza leer skilder het, doen hy dit graag in sy vryetyd. Hy het bygevoeg dat skilder nie 'n ekstra werk is nie, maar bloot 'n stokperdjie om te kan ontspan.
Tot dusver het hy reeds ongeveer 60 skilderye geskilder, waaroor hy steeds baie beskeie is, en waarvan slegs sy familie en naby vriende die geleentheid kry om dit teen sy huis se mure te kan aanskou. Die meeste van sy skilderye, is stillewes.
"Ek geniet dit om outydse karre, bouvalle en dinge soos die Outeniqua tjoe-tjoe trein, wat tot nuut is, te skilder omdat dit vir altyd mooi sal bly," het Borg gesê.
Hy het ook bygevoeg dat hy nog die kuns om diere te kan skilder, wil bemeester sodat hy "sy kinders" (twee pugs, drie katte en twee apies) kan skilder.
Behalwe die skilder, kan hy as gevolg van houtwerk as skoolvak, ook enigiets van hout maak. Hy het al die meubels in sy huis, van die lampstanders tot die kombuiskaste, self gemaak.
Selfs die rame van sy skilderye maak hy self. Terwyl hy hom besig hou met skilder en houtwerk, hou sy vrou, Zelmarie hul tuin skilderagtig - tog skeep hy nie die tuin heeltemal af soos sy visstokke wat tans net stof opgaar nie.
Borg beoog om binnekort van sy skeppings uit te stal.
'n Skildery van Bollotsbaai wat hy van 'n foto af geskilder het. Al die skilderye se rame het hy self gemaak.
ARTIKEL EN FOTO'S: HENRICA VELDMAN, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'