GEORGE NUUS - Na die sukses van Vat My Saam en Rooiwynlippe is plaaslike sanger André Huysamen terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Ek Sal Wag Vir Jou.
Hierdie keer span hy kragte met George se eie Afrikaanse kletsrymer, Richii, wat vars energie en ritme na die projek bring.
Die poplied, wat sterk herinner aan die nostalgiese klanke van die vroeë 2000’s, delf in die kompleksiteite van ’n toksiese verhouding en die verslawende kringloop van mede-afhanklikheid.
Volgens Huysamen is die lirieke nie outobiografies nie, maar geïnspireer deur die universele tema: “Mens is geneig om die ander party as die skurk uit te beeld, maar partykeer is jy self die toksiese een.”
Vir Richii, wat bekend is vir sy partytjievibes en harde ritmes, was die samewerking ’n hoogtepunt.
“Die collaboration met André was next level. Van dag een af het ons ’n kreatiewe klik gehad. My flow en sy styl het perfek saamgesmelt - dit was eg en oorspronklik.”
Huysamen sê hy is opgewonde oor die uitkoms.
“Richii is ongelooflik talentvol en outentiek. Hy bring ’n energie wat nie geforseer voel nie. Ek glo hy is die toekoms van Afrikaanse rap.”
Ek Sal Wag Vir Jou is vanaf 26 September op alle digitale platforms beskikbaar.
Richii‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’