GEORGE VERMAAKNUUS - Plaaslike kunstenaars in George is ook deur die inperking geaffekteer. Eers is die KKNK gekanselleer en nou die algehele inperking. Kunstenaars soos Hakkiesdraad Hartman en Nino Cleophas moes ander projekte kry om hulself mee besig te hou.
Hakkiesdraad sê hy het die afgelope week probeer besig bly. “Tussendeur het ek geskryf, aan projekte gewerk, my volgende video beplan asook die uitreiking van my album.”
Hakkiesdraad is 'n man van vele talente, nie net rymklets nie. “Die klere wat ek maak is deel van my kostuums vir my optredes, maar ek maak ook op bestelling,” sê hy. Hy sê Covid-19 gaan 'n uitwerking hê op hoe funksies se beplanning benader gaan word, en mense gaan ook bietjie meer bewus wees van gesondheid tydens byeenkomste.
“Ons as kunstenaars moet aan 'n verskeidenheid maniere dink hoe ons kaartjies verkoop gaan kry.”
Nino Cleophas sê op die oomblik volg hulle die reëls om binne te bly en om tyd te spandeer met familie. Hy sê dis nie altyd 'n slegte ding nie, maar vir sommige kan dit moeiliker raak as vir ander. “Die huidige situasie en status van die wêreld ruk ons almal, alles staan vir eers stil, maar kreatiwiteit slaap nie, veral as jy dit van binne kan vind.”
Hy sê meeste kunstenaars wat vryskutwerk doen, veral in Suid-Afrika, is afhanklik van lewende vertonings. “Sonder die massas daar buite moet ons ander kreatiewe maniere vind om te oorleef.”
Net voor die uitbreek van die virus, sê Cleophas, was hy en 'n paar medekunstenaars besig om lewende vertoning af te neem, en dan op YouTube te laai.
“Ons wou eers die hele seisoen opneem en dit dan vir die publiek beskikbaar stel, maar omdat ons as kunstenaars nie nou kan optree nie, is so 'n video die naas beste ding. Nino sê die inperking hou hom wel weg van sosiale byeenkomste, maar dit laat hom toe om nou meer tyd te spandeer met die afronding van musiek.
“Ek het ook terselfdertyd meer vrye tyd om my vaardighede op te skerp, rondom die maak en vervaardiging van klank. “
Hakkiesdraad Hartman
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'