GEORGE NUUS - Die sopraan Phyllis Goldblatt tree by hierdie week se etensuurkonsert in die NG Moederkerk op. Die program bestaan hoofsaaklik uit barokwerke en sy word begelei deur ‘n klein barokensemble.
Die komponiste Handel, Bach, Vivaldi en Pergolesi se werk gaan voorgedra word en bekende arias en duette soos Lascia chio pianga, Let the bright seraphim en Laudamus te, asook werke van Linley en Arne uit The Tempest van William Shakespeare, sal gehoor word.
Die konsert vind van 13:10 tot 14:00 in die Moederkerk plaas en toegang is gratis.
Goldblatt is in Hartswater in die Noord-Kaap gebore. Haar musiekloopbaan begin al op vierjarige ouderdom met gereelde optredes by kunswedstryde in die klavier- en sangafdelings. Sy verwerf ‘n BMus uitvoerend met sang en klavier as hoofinstrumente by die Universiteit van die Vrystaat.
Sy het as pianis saam met die SUKOVS en die Johannesburgse simfonie-orkeste opgetree en ook vir SUKOVS en NARUK opera gesing. Sy behaal ook die UNISA voordraerslisensiaat in 2004.
Sy woon gereeld werksessies by en het in 2018 en 2019 in Londen opleiding in die holistiese ontwikkeling van sangers, aangebied deur lektore van die Guildhall School of Music, ontvang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'