Video
GEORGE VERMAAKNUUS EN VIDEO - 'n Unieke en besonderse Passiespel is deur inwoners en personeel van die Tuiniqua-versorgingsoord opgevoer. Die Passiespel is geskryf en aangepas vir opvoerdoeleindes deur een van die inwoners, Coenie Ritter. Hy was al betrokke by verskeie opvoerings in George en het ook daaraan deelgeneem.
Sedert 2016 het die aanbieding van die Passiespel 'n jaarlikse instelling by Tuiniqua geword en vanjaar is dit die vierde keer opgevoer.
Toe dit die eerste keer aangebied is, was net twee mense betrokke. Vanjaar was daar sewe mense by die fisiese produksie betrokke plus 'n sanggroep bestaande uit 18 lede.
Volgens Ritter het die bywoningsgetalle gegroei en meer en meer mense het betrokke geraak. Dit is hoofsaaklik inwoners wat betrokke is en hulle word bygestaan deur personeel.
Dit is baie gewild en hulle is al genooi om die produksie na kerkgemeentes te neem.
Ritter skryf die stukke self. Hy is ook die regisseur en boonop 'n deelnemer.
Met vanjaar se stuk het hy 'n totaal ander hoek geneem, maar dit kom uit by die kruisiging en opstanding van Jesus.
Dis gebaseer op 'n stuk wat Pietie le Roux van Arbeidsbediening jare gelede geskryf het. Le Roux het lank 'n geestelike rubriek in die George Herald behartig. Le Roux het in die verlede 'n bydrae geskryf, Die Vierde Sterrekyker. Dit het in Ritter se kop vasgesteek en hy het dit aangepas.
Kyk 'n video hieronder:
In kort vertel dit die verhaal van drie sterrekykers wat regmaak om na Jerusalem te gaan. Die plan is dat 'n vierde sterrekyker saamgaan, maar hy kom twee dae te laat aan. Die ander drie het dan al vertrek. Dit vertel dan die verhaal van die reis van die vierde sterrekyker en hoe hy mense op pad help. Uiteindelik kom hy by die kruis aan waar Jesus gekruisig is.
Die boodskap van die verhaal is dat as die sterrekyker 'n dag te laat by die kruis aangekom het, was dit vir altyd te laat vir hom om gered te word.
Ritter het gesê hulle kon net een keer per week oefen. Dit het sowat twee maande voor die opvoering begin. Hulle beplan om weer aanstaande jaar 'n Passiespel aan te bied.
Die Passiespel van Tuiniqua-versorgingsoord word aangebied.
Coenie Ritter, die dryfkrag agter die unieke Passiespel van Tuiniqua-versorgingsoord. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'