In 2013 het die koor vierde in die ATKV-Applous junior kategorie geëindig wat beteken tussen al die pret en plesier is daar ook hard gewerk.
Hulle eerste groot optrede vanjaar is in die Coke-tent by die KKNK saam met Michael Lindt op 4 April.
Die koor is onder leiding van Janine Botha wat ook verantwoordelik is vir die reëlings van die kamp en fondsinsameling om die kamp moontlik te maak. Dit is nie vir al die Parkdene-ouers moontlik om die geld vir so 'n toer te voorsien nie en daarom is daar verskeie borge en fondsinsamelingsaktiwiteite. Die kinders en ouers word ook betrek by die insameling sodat almal saamwerk om die naweek moontlik te maak. Van die aktiwiteite sluit in sandkastele bou op die strand, ontbyt by 'n plaaslike restaurant, roomys op die strand, sowel as drie heerlike maaltye per dag.
Sanger Michael Lindt kom maak elke jaar 'n draai by die kamp om saam met die kinders te oefen. Elke jaar word 'n talentkompetisie die Saterdagaand gehou, waar elke kind sy eie item kan lewer. Die volwassenes wat die kinders vergesel op die kamp is dan die beoordelaars en 'n groot pak lekkers is op die spel vir die kind of groep wat die beste item lewer.
Sondagoggend het hulle by die AGS kerk, Hartenbos opgetree en die engelstemmetjies het die mammas en oumas in die gemeente so geraak dat die meeste 'n traan moes wegvee. Na die optrede by die kerk het die busse weer na die skool vertrek. Hulle het hard gewerk en is slaggereed vir die kompetisies wat voorlê in 2014!
Parkdene Primêr se koor het vanjaar weer heerlik geoefen en gekamp by Hartenbos.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'