GEORGE NUUS - Die talentvolle saksofoon-speler en oud-Kwagga, Kerwin Albertus, (19) het op Vrydag 21 Mei 'n besonderse huiskonsert aangebied.
Saam met hom op die verhoog was die Kaapse jazz-trio, The Mangoes, met Bradley Prins op elektriese kitaar, Duncan Johnson op saksofoon en Keno Carelse op dromme.
Hierdie dinamiese trio is bygestaan deur Dillon Cornelius, ook een van ons plaaslike musikante wat tans musiek by Universiteit Stellenbosch studeer.
Die groep het 'n program van Suid-Afrikaanse jazzmusiek uitgevoer en sodoende hulde gebring aan kunstenaars wat swaar deur die uitdagings van die Covid-19-pandemie getref word. Die musiek was van 'n uitsonderlike gehalte.
Hoewel die groep hoofsaaklik instrumentale werke vertolk het, is die gehoor trakteer met die vokale talent van Kelsey Albertus in haar weergawe van die lied Lakutshon' Ilanga, bekend gemaak deur die Suid-Afrikaanse Jazz-ikoon, Miriam Makeba.
Van links is Duncan Johnson, Nekesha Africa, Monicke van der Walt, Siba Sithembile en Kerwin Albertus.
Albertus en die groep het verder 'n werksessie op Saterdag 22 Mei by Hoërskool Outeniqua aangebied, waar hulle leerders bekendgestel het aan die jazz-styl. Daar is 'n in-diepte gesprek gevoer oor die belangrikheid van musiekbeluistering, die rol van elke instrument in 'n ensemble, sowel as die interaksie tussen spelers in 'n ensemble.
Agter, van links: Nekeshia Africa (York), Monicke van der Walt (OHS), Siba Sithembile (York), Bradley Prince, Keno Carelse, Nicklen Gelderbloem (OHS), Philip Myburgh (OHS), Kelsey Albertus, Dillon Cornelius en Logan Jantjies (OHS). Voor: Duncan Johnson, Lynette Petersen en Kerwin Albertus.
Die leerders is ook in instrumentgroepe verdeel waar hulle spesiale kontaksessies met die onderskeie musikante ontvang het. Na afloop van die werksessie het al die leerders saam met hul mentors aan 'n spesiale uitvoering deelgeneem.
'n Hartlike dank gaan aan Kerwin Albertus wat die projek gedryf het, die Albertus-gesin wat die jazz-trio gehuisves het, asook aan Lynette Petersen vir haar ondersteuning en bydrae.
Bradley Prince en Nicklen Gelderbloem
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'