Parkdene se koor is as die vierde beste koor in die land deur die land se oudste koorkompetisie, ATKV Applous, aangewys.
Die ATKV-projekte se webwerf beskryf die doel van die kompetisie: "Die primêre doel van ATKV Applous is die bevordering van die Afrikaanse lied en jeugkoorsang. Die doel is dus om deur koorsang die Afrikaanse lied asook die genot van koorsang te bevorder. As julle nou al so mooi sing weet ons nie hoe gaan dit klink as julle by die senior afdelings kom nie!" het Bessi Keun, organiseerder van ATKV Applous nasionale koorkompetisie gesê.
Botha, is reeds vanaf 2004 by hierdie skool se kore betrokke, en het voorheen die kore by Edleen Laerskool in Gauteng vanaf 1989-2004 deur hulle passe gesit. "Kindertjies wat sing en dit geniet is my passie," verduidelik Botha.
Hierdie passie is duidelik sigbaar in die interaksie tussen die koorlede en hulle koorleier. Voordat die ATKV Applous-koorkompetisie se beoordelaars na Parkdene Primêr se skoolkoor kom luister het, het Botha en die kinders tussen 3-5 Mei by Hartenbos gaan kamp. "Ons gaan elke jaar saam met die kinders kamp," glimlag Botha.
Dit is geen nuutjie vir hierdie kinders om voor gehore op te tree nie, en het al by Mosselbaai se NG kerk asook by die AGS Pacaltsdorp hul stemme laat hoor. "Die kinders het ook op 26 Mei 'n baie suksesvolle voorprogram saam met Anna Davel gelewer," verduidelik 'n trotse Botha.
Gevra wat hulle die meeste van koorsing geniet, het Bronwyn Davids beantwoord: "Die goeie samewerking."
"Om te gaan kamp," het 'n ander gesê. "Om lekker te kan sing," het Anthea le Roux gesê terwyl die ander hul koppe saam geknik het.
Hierdie jong kinders wat maar vir die afgelope sewe maande saam sing en 'n goue sertifikaat by die ATKV Applous 2013 losgesing het is baie lief vir hul begeleier, Michael Lindt, "en werk baie mooi saam met hom", sê Botha.
Die Parkdene Primêr se skoolkoor tree vanaand by die Mosselbaai Eisteddfod, op en dan weer op 13 Augustus by die Outeniqua-korefees.
"Ek is so ongelooflik trots op die kinders," het Botha afgesluit.

Hierdie junior skoolkoor van Parkdene Primêr is as die vierde beste koor landwyd aangewys. Fotos: Fran Kirsten
ARTIKEL: FRAN KIRSTEN, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'