Die opdrag aan ses kunstenaars en twee fotograwe was eenvoudig: Neem die tema "Nostalgie", verteer, interpreteer en vertolk dit na hartelus.
Die kunstenaars, Erika Prinsloo, Mien Greyling, Mariëtte de Villiers, Mariëtte Maarschalk, Helen Brink en Dulcie Nel is reeds bekende name in die omgewing.
Mariëtte Maarschalk van Vleesbaai is ‘n argitek van beroep, maar beoefen deesdae heeltyds kuns. Vir hierdie uitstalling is sy grootliks geïnspireer deur die klein sepia foto’tjies in haar ouma se familie-album!
"Elkeen van die skilderye is vir my ‘n herinnering van wat was - ‘n herkenning en erkenning van die skilder se eie geskiedenis, nie ‘n hunkering nie, eerder ‘n nostalgiese terugblik," sê sy.
Warmte van plaaskombuis
Vir Dulcie Nel neem die uitstalling haar terug na die nostalgie van die Karoo - die warmte en gasvryheid van ‘n ou plaaskombuis, die samesyn om ‘n tafel en die grootsheid van vergete landskappe.
Helen Brink gryp terug na die verlede met haar klein portretstudies van onder andere Madiba, terwyl Mien Greyling verlang na reise na verre lande.
Mariëtte de Villiers, wat aan die voet van die Robinsonpas bly, se werk word gekenmerk deur gedempte aardse kleure en herinner sterk aan die tyd toe sy en haar gesin met Moya, hul seilboot, om die Karibiese Eilande en die Bahamas gevaar het.
Erika Prinsloo vertolk haar verlede via Bovril-botteltjies en Moirs se bakpoeier-blikkies.
Die twee fotograwe, Theunis Minnie en Manja de Waal, interpreteer die verlede eiesoortig en uniek - die een met vergete Karoo-geboue as tema en laasgenoemde in die herinneringe wat die strand oproep.
Die invloed van Spies Venter, wat ook die uitstalling gaan open, loop soos ‘n leitmotief deur die kunstenaars se werk. Dit kan ook nie anders nie, aangesien vier van die kunstenaars al vir jare ingeskrewe studente van Spies se kunsskool op Groot-Brakrivier is.
Die uitstalling duur tot 1 Mei. Rig alle navrae aan Heleen 082 457 7897 of Elaine 082 576 338.
Een van Mariëtte Maarschalk se tonele. "Mens erken iets van jouself in die eertydse menslike aksies en word opnuut bewus van die verganklikheid daarvan," verduidelik sy.