GEORGE NUUS - Musiekliefhebbers het vanaand, Dinsdag 15 September, ’n besonderse rede om die NG Moederkerk in George te besoek. Nie alleen is vanaand ’n aand van wêreldklas musiek nie, maar ook 'n geleentheid om die kerk se nuwe permanente vleuelklavier te bewonder.
Die George-musiekvereniging het sy pragtige vleuelklavier na die Moederkerk laat verskuif, waar dit voortaan op ’n permanente basis beskikbaar sal wees.
Die klavier is op bruikleen aan die kerk, ’n reëling wat volgens die vereniging tot voordeel van sowel die musiekvereniging as die breër George-gemeenskap sal wees.
Die eerste groot geleentheid om die klavier in sy nuwe tuiste te hoor, is vanaand se konsert, “Some Enchanted Evening”, wat om 19:00 begin.
Die program beloof ’n heerlike mengsel van musiek uit operas, musiekblyspele en liedere, met werke soos Puccini se O mio babbino caro, Some Enchanted Evening uit South Pacific en Heimwee van S. le Roux Marais.
Die aand bring drie Suid-Afrikaanse kunstenaars bymekaar: die bariton William Berger, sopraan Lynelle Kenned Soprano en veelsydige pianis Elna van der Merwe.
Kaartjies is R150 vir lede, R190 vir die publiek en R50 vir leerders, en is vanaf 18:00 by die kerk beskikbaar.
'n Gewerskaf om die klavier by sy nuwe tuiste te kry.
Die klavier is op bruikleen aan die kerk.