Video
GEORGE VERMAAKNUUS EN VIDEO - Grapjas, Lag in Afrikaans en Coloured Laaitie, is alles terme waarmee Moses Williams vereenselwig word. Moses wat nog altyd van alles 'n grap kon maak, maak nou van sy grappe lekker geld ook. Maar volgens hom was dit nie altyd so nie.
"Ja ek het 'n bietjie charm gehad. Was altyd die een wat namens my vriende met die meisies moes praat, maar kon dit nie vir myself doen nie."
Moses se naam dra nogal gewig, die dat dit uit die Bybel kom, maar die Karoo-klong vat nie dinge te ernstig op nie, behalwe as dit kom by grappe maak. Dit is sy lewe - letterlik en figuurlik aangesien baie van sy grappe uit sy eie lewe kom.
Hy vertel sy eerste vertoning het gegaan oor sy familie se doen en sêdinge. Die ouma-kind sê aan die begin was dit ook nie maklik nie, veral na hy skool verlaat het en dinge op sy eie moes doen.
"Ek het op skool die gehoor op hul voete gehad, en wou dit weer hê. Ek bespreek toe 'n saal, verkoop kaartjies en toe daag net ses mense op. Ek was stukkend," vertel hy. Maar dit was 'n groot lewensles vir 'n man wat net wou wen. Die duur les het hom sterker gemaak, sê Moses, want hy wou uitstap, maar het besluit om tog voort te gaan.
Nou met finansiële ondersteuning en iemand wat glo in sy talent, doen Moses groot dinge. Hy verskyn deesdae op Facebook in kortfilms met die konsep om nuus oor te dra, maar op sy unieke snaakse manier. "Ons het al ons derde video gemaak en sover gaan dit goed."
Maar hy droom van groter en beter dinge en dis hoekom hy op 4 en 5 Mei sy eenmanvertoning by die George-kunsteteater gaan hou. Hy meen die teater gaan daai ietsie ekstra bied, 'n "touch of class" soos hy sê. Hy hoop ook om teen die einde van die jaar sy maatskappy Coloured Laaitie Productions te laat registreer.
Hy vra dat die mense van George hom moet ondersteun en gereed maak vir 'n lekker aandjie van lag en maagspiere bou.
Kontak Moses vir jou kaartjie by 074 301 2415 of besoek Garden Route Media op Facebook vir jou dosis van 'n bietjie Moses.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'