GEORGE NUUS - As jy van koormusiek hou moet jy Saterdag 28 September by die George-stadsaal wees.
Nagenoeg 500 koorlede van die Anglikaanse kerke van die Noord-, Suid- en Wes-Kaap gaan optree in 'n massauitvoering van besondere liedere. Volgens die organiseerders is dit 'n historiese geleentheid en dit begin om 19:00. Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is die geleentheidspreker.
Kore van so ver as Nababeep, O'Kiep en Springbok in die Noord-Kaap gaan saam met honderde ander sangers optree.
Biskop Brian Mahrajh, Dean Isaac Joseph van St Mark's Katedraal in George en Archdeacon Edwin Pockpas, rektor van St. Albans in Pacaltsdorp, is van die eregaste. Na verwagting sal burgemeesters en lede van stadsrade ook in die gehoor wees.
Een van die organiseerders het gesê in 'n land waar geweld toenemend op die voorgrond tree, is hierdie musikale geleentheid 'n lafenis vir die siel. "Vredeliewende inwoners verdien om agteroor te sit en hulle te verlustig in die harmonieuse stemme van ongeveer 500 vroue en mans. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat verenigings van kerkkore oor twee bisdomme saamsmelt en hande vat om 'n boodskap aan verskillende gemeenskappe oor te dra dat daar ook die mooi in die lewe is."
Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging (ATKV).
Verrigtinge begin stiptelik om 19:00. Kaartjies is beskikbaar by vier van die plaaslike Anglikaanse kerke in George sowel as by Hyran Motha, plaaslike orrelis en musiekdirekteur vir die George Bisdom.
Koste vir kaartjies beloop R40 vir volwassenes en R20 vir kinders. Vir meer besonderhede kontak Motha by 082 702 2924.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'