GEORGE NUUS - Bevin Fortuin, voormalige Springbok-heelagter van George, kan nie vanjaar 'n bydrae maak om die Bokke in die Wêreldbekerreeks in Japan te help nie, maar hy gaan sy gewig ingooi om Laerskool Van der Hoven met hul jaarlikse fondsinsameling te steun.
Fortuin gaan as eregas optree tydens die skool se eerste mannedag wat in die Boereverenigingsaal aangebied word en die geleentheid aan alle mans bied om heeldag tussen die landerye te kuier, rugby te gesels en 'n bielie van 'n laatoggendontbyt te geniet.
'n Span dames wat betrokke is by die skool belowe dat die eetgoed uit die boeke gaan wees en elke man gaan verras. Die verrigtinge skop teen 11:00 af en die kuier gaan tot laat duur.
Teen 13:00 gaan 'n veiling plaasvind waartydens onder andere 'n springbok, vakansieverblyf, meubels en verskeie ander goedere onder die hamer gaan kom.
Daar sal ook 'n kontantkroeg met billike pryse beskikbaar wees om die kele deur al die geselsery klam te hou.
Die mannedag vind op 5 Oktober plaas en die kaartjies kan vooraf teen R150 per persoon aangeskaf word.
Die Boeresaal is tussen die landerye by Sinksabrug (net verby Sinksabrug Kafee en die Laerskool Van der Hoven). Kaartjies moet voor 30 September bekom of bespreek word om spyseniering te vergemaklik.
Meer besonderhede en kaartjies kan bekom word deur die skool by 044 876 0133, Sonja by 082 819 5246 of Leonore by 072 237 2327 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'