GEORGE NUUS - Aktrise, regisseur en dramaturg Lizz Meiring het 'n jaar gelede tydens die George-kunsteteater se Grand Ol' Dame Arts Festival, malverlief geraak op die teater toe sy haar eenvrouvertoning, Die Weduwee se Sjampanje, met Georgiete gedeel het.
Die geld wat toe ingesamel is, is aangewend om die teater te restoureer.
Lizz was so meegevoer deur die swierige ou dame met haar eerste besoek, dat sy skoon emosioneel geword het tydens 'n onderhoud met George Herald en die trane het vrylik geloop.
Nou, kort voor die KKNK in Oudtshoorn het sy haar bande met George se kreatiewe gemeenskap nog verder versterk.
Lizz het 'n unieke kostuum gesoek vir haar nuutste produksie, Van die rak af, wat in April by die KKNK 2023 debuteer, en by FABArt in George kom kers opsteek.
FABArt doen tekstielontwerp en -drukdiens en 'n rits jong, talentvolle tekstielontwerpers skep jou spesifieke ontwerp. FABArt druk dit net soos jy dit wil hê op enige materiaal denkbaar.
En Lizz wou 'n baie spesifieke ontwerp vir haar vertoning hê - die materiaal vir haar kostuum moes lyk soos boeke.
Binne 'n paar dae het Danni Alberts en haar span van FABArt dié unieke patroon ontwerp en gedruk.
Lizz is later vanjaar, in Augustus, terug op die planke van die kunsteteater tydens Vrouemaand.
Intussen kan ons tussen 5 en 9 April by KKNK gaan kyk hoe George se FABArt naam maak in Lizz se Van die rak af.
'Van die rak af'
'n Mensebiblioteek, wêreldwyd bekend as "the Human Library", is 'n konsep wat sowat 20 jaar gelede in Skandinawië ontstaan het. Die konsep is op humanitêre beginsels gebaseer met die doel om ander mense beter te verstaan.
Soos die ou spreekwoord lui: "onbekend is onbemind". Omdat ons diegene wat ons nie ken of verstaan nie, veroordeel en vrees, poog "The Human Library" om mense van verskillende wêrelde aan mekaar voor te stel in een-tot-een gesprekke, hetsy in die vlees of aanlyn. Die mensebiblioteek-konsep het in 2017 ook in Suid-Afrika posgevat.
Die praktiese toepassing is eenvoudig. In plaas van om 'n boek uit te neem, neem jy 'n mens uit. Die persoon - dikwels 'n kontroversiële of gemarginaliseerde persoon - sy of haar storie aan jou as toehoorder... eerlik, kaalvuis. Jy kan self ook aansoek doen om te registreer as 'n boek.
In die produksie Van die rak af ontmoet ons sulke individue. Werklik, histories, fiktief, mitologies, komies, tragies, satiries en tragi-komies - elkeen van die karakters verbeeld en vertel hul eie unieke storie.
Maar daar is 'n interaktiewe element: voor die aanvang van die vertoning ontvang die gehoor 'n stembriefie met storietitels. Dan kies die gehoor self watter mense en stories hulle wil uitneem vanuit die rits "boekmense" wat Lizz voorberei het vir dié spesifieke opvoering.
Dus is elke opvoering anders. Selfs Lizz weet nie watter keuses gemaak is tot sy op die verhoog verskyn en die boeke oopmaak nie.
Details
- 5 April, 09:30
- 6 April, 18:00
- 7 April, 18:00
- 9 April, 09:30
Venue: Hoërskool Oudtshoorn -skoolsaal
- R180 (vooraf)
- R170 (Vriende van die KKNK)
- R200 (by die deur)
Die vertoning duur 60 minute.
Lizz Meiring is by die KKNK te sien in haar produksie 'Van die rak af ' op 5, 6, 7 en 9 April.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'