Gallery Video
VERMAAKNUUS EN VIDEO - Die derde laaste vertoning van Laerskool Noord, en die laaste in die Wes-Kaap, het die gehoor by George-kunsteteater maagkrampe gegee van al die lag.
Na twee jaar en meer as 80 vertonings sluit die drie akteurs, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie, hul Afrikaanse komedie met 'n diep buiging af. O' ja, moenie vergeet van Neels Coetzee wat die rol van die bejaarde skoolhoof speel nie. Hy maak 'n skermverskyning tydens 'n Zoom-vergadering.
Diegene wat in die Oos-Kaap woon kan nog bespreek vir die laaste twee vertonings op 9 en 10 April.
Lewende toneel
Dit was 'n absolute voorreg om gesoute akteurs in lewende lywe by 'n gemeenskapsteater te sien. Die karakters is eg en neem jou sommer gou-gou terug na jou eie skooldae. Dit is nie moeilik om die verskillende persoonlikhede te herken nie. Ilne Fourie, die skrywer van die toneelstuk, kom self uit 'n "onderwyshuis" waar sy heelwat van haar materiaal kon ontgin.
FOTOGALERY - Laaste draai voor einde van Laerskool Noord: Afrikaanse komedie vol stuitigheid:
In sy voetspore
Die beplanning van die skoolhoof se afskeid ontaard in 'n kleinskaalse kompetisie tussen die drie onderwysers. Dan is daar ook die groot geheim - wie gaan die volgende skoolhoof wees? Ilne Fourie as Marietjie is gek oor haar verkleinwoordjies, wat die ander na raserny lei. Marion Holm as die kreatiewe Bets du Preez is oorweldig deur die uitdaging van administrasie, en Margit Meyer-Rödenbeck, die ongekunstelde LO-onderwyser Zelda de Wet, is baie lief vir haar fluitjie en wydsbeensit.
As jy daaraan dink om jou kind onder die ouderdom van 13 saam te neem, moenie. Die ouderdomsbeperking is daar vir 'n rede. Daar is heelwat stuitige verwysings en woordspel in die teks verweef.
Die Grabe-gesin van Hartenbos én hul kinders (15 en 16) se onderwyser het die toneelstuk terdeë geniet. Annelie Grabe het gesê dit is maklik om die karakters te verbind met sommige onderwysers wat al in jou lewe oor jou pad geloop het. "Dit was 'n fantastiese produksie, lewensgetrou in karakter," het sy gesê. "My een vriendin is net soos die LO-juffrou," het Anna Grabe (15) gesê. 'n Onderwyser, Caren Jansen van Rensburg, van Ligdraers Studie Sentrum in Reebok, het dit net so baie geniet.
VIDEO - Laerskool Noord by die George Arts Theatre: Laaste vertoning in die Wes-Kaap na 2 jaar op die planke:
• Die laaste twee vertonings vind plaas in Gqeberha, Hoërskool Framesby op Dinsdag 9 April (bespreek by Webtickets) en op 10 April in Uitenhage, Barklystraat-teater (bespreek by Heidi 071 871 6940 of Tossie 082 809 4272).
Die Grabe-gesin van Hartenbos én hul kinders se onderwyser het die toneelstuk terdeë geniet. Van links is Annelie en Johan, Anna (15), Johann (16) en Caren Jansen van Rensburg, van Ligdraer Studiesentrum. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’