Gallery
GEORGE NUUS - Die kaartjies vir al vyf aande van Laerskool George-Suid se revue, Ster Kinderkor, is uitverkoop.
Maandagaand (18 September) was die openingsaand van die weeklange aanbieding by die skool, waaraan al die leerders deelneem.
Gaste word verwelkom met ‘n uitstalling van foto’s van al die items en warm springmielies.
Die kinders se opgewondenheid is aansteeklik en kort-kort is ‘n vreugdevolle gilletjie hoorbaar.
Meisies polkadraai in pragtige rokkies en die seuns lyk alte fraai met hul grimering en kostuums.
Oumas en oupas ondersteun die kleinkinders met hul teenwoordigheid en jonger boeties en sussies bly laat wakker om ousus of ouboet op die verhoog te sien.
‘n Hele span ma’s help agter die skerms met ‘n dansitem, Tangled, waaraan ballerinas van graad 1 tot graad 5 deelneem. Ouer dansertjies in gr. 6 en 7 neem deel aan die dansitem Canned Heat. Beide items het heelwat toewyding van die leerders geverg, onder leiding van die balletonderwysers Madelé Strydom en Corlia Lewwiton.
Verder neem leerders in graadverband deel aan ‘n aantal gechoreografeerde items, waaronder Grease, I like 2 move it move it, Timbuktu, Rock around the Clock, Hannah Montana, Pretville, Ghostbusters en Footloose.
Leerders het maande lank vir hierdie opvoering geoefen. Die jongelinge sluit af met ‘n massa-item waaraan alle leerders van graad 4 tot 7 deelneem.
Read more in Thursday's George Herald, as well as online.
'We bring you the latest George, Garden Route news'