Gallery
GEORGE VERMAAK NUUS - Opa! Opa! Dis hoe die sesde Kwagga-langtafel vanjaar afgeskop het, in volle Griekse styl. Die Outeniqua-vervoermuseum was Vrydagaand gerat om alle gaste, borge en ondersteuners van hierdie populêre geleentheid te akkommodeer vir 'n heerlike tradisionele saamkuier ter ondersteuning van die Kwaggas.
Daar was ook 'n lojale teenwoordigheid van talle oud-Kwaggas wat hulself met trots aan hul alma mater verbind het.
Dit was duidelik dat die gaste elke oomblik geniet het, die treffende eerste indrukke was dié van die drama departement van die skool, wat asems weggeslaan het met hul statiese yswit mannekynvertoning. Dansers van die skool, onder leiding van Wehan van Jaarsveld, het ook 'n pragvertoning gelewer.
Gaste was deur die loop van die aand deel van die Griekse borde-breek tradisie wat met Griekse danse en musiek gepaardgegaan het. Die opwinding en energie hiervan het boekdele gespreek.
Fotogalery: Kwagga-langtafel in Griekse styl
Die organiseerders het werklik 'n gehalte geleentheid aangebied, een uit die boonste rakke. Ronel Lamprecht, die skool se bemarkingsbestuurder, sê die ouerkomitee het baie hard gewerk om vanjaar hul sesde Kwagga-langtafel te kan aanbied.
Die mense het hulle omtrent geniet na die breek van borde en dansery.
Sy sê hulle kon, met die hoofborgskap van The Grocery Express, daarin slaag om kunstenaars uit Johannesburg te kry om die gaste te vermaak. Mense het die aand geniet, en dit het uitgestaan in die oorspronklike Griekse uitrustings, dekor en die kos wat op die tafels te sien was.
Hoërskool Outeniqua is opreg dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en betrokkenheid by die Kwagga-langtafel en bedank elke deelnemer en ondersteuner.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'