GEORGE NUUS - Met die wêreldpandemie moes kunstenaars van alle mediums die bitter werklikheid aanvaar dat die gereelde jaarlikse kunstefeeste afwesig is op hul kalender.
KKNK, Aardklop, Woordfees en soveel ander gewilde feeste moes vir twee jaar gehoorsaam in die stilhoekie sit as gevolg van sosiale beperkings.
"Gelukkig vir ons in die Tuinroete, het die Dotsure.co.za George-kunsteteater 'n kunstefees van hul eie beplan en dit gaan definitief een wees om oor huis toe te skryf," het Chrisma Theron, ondervoorsitter van die George-kunstevereniging, gesê.
Die Grand Ol' Dame Arts Festival begin Donderdag 17 Maart met die veelsydige en talentvolle Lizz Meiring se eenvrouvertoning: Die Weduwee se Sjampanje. Die res van die opwindende langnaweek is gevul met lekker kos, kuns, koffie, kelkies en kultuur.
Op die teaterfront kan gehore uitsien na die skreeusnaakse Marion Holm se Holmruggery, nog 'n toneelstuk met Lizz Meiring genaamd Tour de Forces/Forced to Tour, en dan ook Hannes van Wyk se motiveringspraatjie: Sielskos. Vir die jongspan kom kuier die gewilde, prettige en kleurvolle Klikkerlanders en daar is lekkers en spookasem te koop.
Kom proe Houtbosch se wyne en mengeldrankies terwyl jy agteroor sit en na die smeulende klanke van die jazzorkes, Bottomline en Carpe Musicam! se klassieke orkes luister.
Loop deur die visuele kunsuitstalling van talentvolle kunstenaars en word geïnspireer deur werke soos die van Jan Blohm, Tanja Lategan, Arno le Roux en vele ander uiters begaafde kunstenaars.
"Die winste gemaak uit hierdie langnaweek-kunstefees gaan gebruik word om ons 116-jarige Grand Ol' Dame se dak te herstel. Na vele jare se waterskade benodig ons Dame dit meer as ooit," het Theron gesê.
"Die Grand Ol' Dame Arts Festival gaan 'n kultureel vervullende ervaring wees!"
Bespreek kaartjies by die teater self (Yorkstraat 125) of deur Computicket. Vir meer inligting volg George Arts Theatre op Facebook, of besoek hul webwerf by www.georgeartstheatre.co.za of kontak die teater by 044 873 3938.
Hannes van Wyk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'