Gallery
GEORGE NUUS - Drama, musiek en kuns het die gange en verhoog van die George-kunsteteater gevul tydens hul bykans vyf dae lange kunstefees as fondsinsameling vir die herstel van die teater se lekkende dak.
"Ons wins is sowat R20 000," het voorsitter Reneé van Rensburg gesê. "Ons mikpunt is R100 000."
Die fees het verlede Donderdag 17 Maart afgeskop met 'n eenvrouvertoning van die ikoniese Lizz Meiring, Die Weduwee se Sjampanje, en Maandagoggend 21 Maart geëindig met 'n vertoning van Klikkerland, vir die jongspan.
Dit is Meiring se eerste optrede in die historiese teater en sy kan nie uitgepraat raak oor dié skat van George nie. "Ek was in trane. Ek wil al weer huil," het sy Saterdagaand op die verhoog gesê. "Ek hoop julle besef watter ongelooflike plek hierdie is. Ek voel so geëerd om hier op te tree."
Die fees het liefhebbers van die kunste die geleentheid gegee om professionele akteurs in aksie te sien.
Lizz Meiring in die rol van Veuve Cliquot (Barbe-Nicole Ponardin-Cliquot), oftewel die weduwee van haar eenvrouvertoning Die Weduwee se Sjampanje.
Meiring het ook 'n Engelse vertoning aangebied, naamlik Tour de Forces. Hannes van Wyk se Sielskos was ook deel van die spyskaart en Marion Holm se Holmruggery het teatergangers laat maagvashou van al die lag.
Kaartjies vir die optrede Walt's Singalong van Glenwood House se kinder-ensemble is binne 'n ommesientjie uitverkoop.
Kunstenaars van die omgewing het deelgeneem aan 'n kunsuitstalling wat tydens die fees in die teater se studio uitgestal is. Carpe Musicam! Orkes en Boutique Band, BottomLine Band, die violis Stefan Conradie, akoestiese klanke van Naelon Andrews en die sanger/kitaarspeler/liedjieskrywer Beatrice Crawford van Barefoot Music en die baskitaarspeler John Richards het gesorg vir musiek tussen al die drama.
Stefan Conradie skep 'n heerlike atmosfeer in die onthaalarea van die George-kunsteteater tydens die opening van die kunsuitstalling Vrydag 18 Maart.
Houtbosch Wynlandgoed het hul ware ten toon gestel en gaste kon aan die voggies proe.
FOTOGALERY: Kunstefees by George Arts Theatre
"Wat 'n fees om ons eie kunstefees te hê!" het een van die gaste gesê. "En jy hoef nie eens oor die berg te ry nie." Volgens Van Rensburg is die plan om hierdie geleentheid 'n jaarlikse instelling te maak.
Marion Holm tydens haar skreeusnaakse eenvrouvertoning Holmruggery.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'