GEORGE NUUS - Kinderstemme en 'n ensemble van vyf laerskole in Eden span kragte saam om Carpe Diem, 'n skool vir kinders met spesiale behoeftes, te help.
Die geleentheid, Eden in Harmonie, is 'n sop-en-brood-aand wat op 14 Junie om 18:00 in die burgersentrum aangebied word. Kaartjies kos R150 en sluit sop en 'n broodjie in.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of by enige Pick n Pay.
Verskeie skoolkore, sowel as Carpe Diem se eie ensemble, gaan saam met bekende kunstenaars tydens die geleentheid optree, as fondsinsameling vir Carpe Diem.
Chloe van Graan tree op saam met Laerskool Knysna.
Die plaaslike glanspaartjie Jovan & Thelma gaan saam met Laerskool Outeniqua se skoolkoor optree; Laerskool Hartenbos tree op saam met die Idols-deelnemer, Munro du Toit; Laerskool George-Suid saam met die welbekende kunstenaar en liedjieskrywer Etienne Steyn, Laerskool Knysna saam met Chloe van Graan en Carpe Diem se ensemble saam met 'n gunsteling in Eden, Michael Lindt.
Die plaaslike glanspaartjie Jovan & Thelma tree op saam met Laerskool Outeniqua se skoolkoor.
Carpe Diem se skoolhoof, Elzeth Grobler, het gesê hulle skool is baie opgewonde oor Eden in Harmonie, "Ons waardeer elke skool wat gaan deelneem asook die gaskunstenaars wat hul tyd en talente skenk, in vandag se tye spreek hierdie gebaar van opoffering en ware omgee."
Etienne Steyn het sy opge-wondenheid as volg verwoord: "Hierdie is 'n skool so uniek en besonders en die naam staan vir 'gryp die dag aan'. So ons motiveer die Eden-gemeenskap om die geleentheid aan te gryp en hierdie waardige saak te ondersteun om 'n verskil te maak in hierdie skool, sy personeel en leerders se lewens."
Michael Lindt tree op saam met Carpe Diem se skoolkoor.
Die Omgee Loeriespan van Laerskool George-Suid is aan die stuur van die inisiatief en nooi besighede en individue uit om betrokke te raak en die aand saam met hulle te deel.
Die skoolhoof van Laerskool George-Suid, Sas du Plessis, het gesê LGS is 'n gemeenskapskool met hulpbronne en mannekrag.
"Skole in George het verskillende behoeftes en omstandighede. Ek wil graag die gesegde, 'It takes a village to raise a child', verander na: 'It takes a village and schools to raise the children'. Ons leef ons mantra, 'Droom groot, werk hard en gee om'.
"As skoolgemeenskap wil ons omgee vir ander en daarom gee ons onder-steuning aan Eden in Harmonie wat deur Carpe Diem aangebied word."
Vir meer inligting oor Eden in Harmonie stuur 'n e-pos na bemarking@lgs.co.za.
Etienne Steyn tree op saam met Laerskool George-Suid se skoolkoor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'