OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn begin oor net meer as ’n week op dié Klein-Karoo-dorp.
“Ons vier van Donderdag 8 tot Sondag 11 Augustus Klassique se 11de verjaarsdag en die program beloof hoogtepunte vir elke klassieke smaak,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.
Volgens hom word die ryk kultuurerfenis van Suid-Afrika ook by die fees gevier. “As deel van ons program bied ons vir die eerste keer ’n ATKV-Erfeniskonsert, Vir die liefde van ... aan. Dan word die land se kultuur deur ’n verskeidenheid kunsvorme, waaronder rieldans, koormusiek en solo-optredes verteenwoordig,” vertel hy.
“Dis ’n viering van talent en kultuur en word saamgestel uit die verskeidenheid talent wat deur die ATKV ontdek en ontgin word.”
Feesgangers kan uitsien na optredes deur HemelBesem, Calitzdorp se Kallieklip Stoftrappers, Hakkiesdraad, die Outeniqua-jeugkoor en ander plaaslike Oudtshoorn-kunstenaars. Simon Witbooi, oftewel HemelBesem, nooi feesgangers uit om die konsert by te woon. “Kom kyk, luister en ervaar die vreugde in verskil," nooi hy.
Vir die liefde van ... word op Saterdag 10 Augustus om 17:00 in die Toekomsrus-gemeenskapsaal aangebied. Daar is slegs ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar.
“Alhoewel kaartjies vir hierdie konsert slegs R20 kos, moedig ons feesgangers aan om meer te betaal as ’n skenking en bydrae tot die Klein Karoo Kunste-akademie, ’n Kunste Onbeperk-inisiatief in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit. Alle fondse wat met hierdie konsert ingesamel word, word aangewend vir fondse van dié akademie se aktiwiteite,” sluit Theart af.
Theart sê verder dat feesgangers wat die spesiale Klassique Pakket gekoop het, outomaties toegang tot Vir die liefde van ... ontvang.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word.
Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'