GEORGE NUUS - Kitaarliefhebbers kan uitsien na 'n uitvoering deur twee internasionaal aangeskrewe kitaarspelers, James Grace en Morgan Szymanski op Donderdag 15 Maart om 19:30 in die George-kunsteteater.
'n Verdere bederf is die optrede voor die tyd deur kitaarghoeroe, Benjamin Bushakevitz, 'n voormalige student van James Grace.
James Grace is 'n ontvanger van die Kanna-toekenning vir die beste manlike kunstenaar by die 2010 KKNK.
Meer onlangs het hy die Fiësta-toekenning van kykNET ontvang.
Hy is die hoof van Universiteit Kaapstad se klassieke kitaarstudies en is gemoeid met projekte om jong opkomende kitaarspelers op te lei.
Gedurende sy luisterryke loopbaan het hy met al die hoofstroom-orkeste van Suid-Afrika opgetree.
Die virtuoso het ook 'n solo-optrede gegee in die Rodrigo's Concierto de Aranjuez saam met die Kaapstadse Filharmoniese-orkes en met Pieter Daniel by die Kirstenboschse Somerkonsert-series.
Morgan Szymanski is 'n alumni van Live Music Now, gestig deur Lord Yehudi Menuhin.
Szymanski gee gereeld meesterklasse by verskeie instansies soos die Royal College of Music, Royal Welsh College of Music en Trinity College of Music.
Hierdie konsert word aangebied deur die George-musiekvereniging en kaartjies kan aanlyn bespreek word by www.georgemusicsociety.co.za teen R140 vir volwassenes, R90 vir lede en R20 vir leerders.
Kaartjies ook beskikbaar by die teater by Yorkstraat 125, George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'