GEORGE NUUS - 'n Besondere kunsuitstalling op Woens-dag 26 Maart, waar die fokus geval het op skilderwerk van meestal kinders met spesiale behoeftes, was 'n aangename openbaring vir besoekers.
Dit is gehou by die tuisateljee van die kunstenaar Marita Bezuidenhout in Heatherpark.
'n Begeleide toer van die werke met Marita wat die kinders se persoonlike verhale van stoei met die lewe ken, het 'n knop in die keel gebring en 'n mens laat besef hoe kuns heling kan bring en as terapie kan dien. Maar dan het jy die regte onderwyser nodig, en dít is Marita vir seker.
Kinders van verskillende ouderdomme het uitgestal. Dit was 'n heerlike ervaring om die resultaat van hul kreatiwiteit en elkeen se uniekheid te kon ervaar.
Vandat Marita in 2014 in George begin klasgee het, het sy toenemend studente met spesiale behoeftes ontvang wat gediagnoseer is met outisme, introversie of aandagafleibaarheid - van hulle op die uiterste skale van die spektrum.
"Kuns word vir hulle 'n uitlaatklep en toevlugsoord. Die talent wat te voorskyn kom, verstom my," sê Marita.
Van haar studente verkoop al opdragwerke. "Soos hulle leer en vorder, kan 'n mens sien hoe hulle blom. Hulle verbaas my met hoe elkeen 'n sterk individuele styl ontwikkel. My studente is bitter na aan my hart en dis vir my ongelooflik om die positiewe verandering te kan beleef wat in hulle as mens plaasvind."
FOTOGALERY: Kinders se kuns inspireer
Omuhle Jack (8) met haar skildery saam met haar trotse ma, Nokhanyo.
Chris Birrell met sy helderkleurige weergawe van 'n luiperd.
Jean-Mari Burger met 'n pragtige landskap wat sy geskilder het.
Marita by Chiara Terblanche.
Zealen Fraser en Marita by sy weergawe van jellievisse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’