GEORGE-NUUS - Die Vodashop George Kaasfees vind vanjaar van 11 tot 13 Junie by Laerskool Outeniqua plaas.
Hierdie jaar gaan die Foodworx Theatre wat deur Pick n Pay en Kloppers geborg word ‘n ligter toon aanneem.
"Ons het besluit om hierdie jaar die gewilde Ina Paarman na die fees te bring wat Vrydag en Saterdag gaan optree," verduidelik Anneke Meyer en Wilma Moorcroft, organiseerders van die Foodworx.
"Hilary Biller, kosredakteur van die Sunday Times en Brian Dick, eienaar van die Gourmet Cheese Shop in Johannesburg, gaan Saterdagaand ‘n spesiale proe-sessie met Pick n Pay se kase aanbied."
Saam met nog van ons plaaslike sjefs soos Werner Pons van Pomodoro’s in Wildernis sal die SWD Arende-rugbyspelers, Anton van der Westhuizen en Bevin Fortuin hulle slag voor die potte wys. Laerskool Outeniqua se eie skoolhoof, mnr. Johan Smit, gaan wys waarom hy ‘n potjiekosmeester genoem word.
Die Checkers Food, Wine & Fashion Show sal feesgangers in die Checkers-tent verras met elegansie van kleur, styl en smaak.
Checkers, die borg en produkverskaffer, sal feesgangers bederf met hul Big 5 en hul alombekende verskeidenheid kase en wyne. Die aanbieders by die geleentheid is Marliza van den Berg van SABC 3 se De Kat-program wat weer in Junie begin.
Junel Vermeulen, Kaapse wynmeester en een van net 65 meesters in Suid-Afrika, sal meer oor Pick n Pay se wyne vertel.
Terwyl feesgangers smul aan die geregte sal Joani Johnson, Mev. Suid-Afrika 2009, en modelle van ACE models stylvolle modeskeppings vertoon. Die ontwerper Deon Oelofse stel ook sy nuwe reeks by die fees bekend.
Iets nuuts vanjaar by die Food, Wine & Fashion Show is die Eden Wear Art-vertoning. Onder leiding van Elna Pretorius, ontwerponderwyser by Hoërskool Outeniqua, gaan leerders van die Suid-Kaap vir die feesgangers hul interessante ontwerpe van gebruiksartikels ten toon stel.
Feesgangers moet maar vroegtydig hul besoek aan die Kaasfees so beplan dat hulle ten minste een van die opwindende sessies kan bywoon.
Toegang is R80 vir volwassenes en sluit gratis bywoning van hierdie twee demonstrasiesessies in.
Feesprogramme sal van hierdie week af by die toerismeburo en plaaslike Vodashop-winkels in George beskikbaar wees of lesers kan die organiseerders kontak by 071 434 4787.
Besoek die webblad: www.georgecheesefestival.co.za.