GEORGE NEWS - George Herald het met die talentvolle jong pianis Christian-Peter Hiemstra gesels. Hiemstra, wie se ouers albei van Suid-Afrika afkomstig is, is in Cambridge, Engeland gebore en tree vandag om 18:30 by die Moedergemeente in George op. Die konsert vorm deel van ’n landswye toer sowel as ’n dokumentêre film wat oor die jong kunstenaar gemaak word.
George Herald het met Hiemstra ontmoet om meer uit te vind oor hom as mens en hoe dit gebeur het dat hy reeds op 15-jarige ouderdom voltyds musiek aan ’n universiteit in Switserland studeer.
Wat opvallend is, is dat Hiemstra Afrikaans magtig is, ten spyte daarvan dat hy in Engeland grootgeword het. Albei sy ouers is Afrikaanssprekend en het hul huistaal behou.
Hiemstra se pa, Thomas, wat hom op toer vergesel, vertel dat hy en sy vrou nie musikante is nie en nooit besef het hul enigste kind is besonder begaafd nie, totdat ’n professionele pianis hulle op sy vermoëns attent gemaak het. Die gesin het in 2002 na Engeland verhuis nadat Hiemstra senior ’n navorsingspos aan die Universiteit van Cambridge aanvaar het. Thomas is ’n oud-Matie en ’n gekwalifiseerde nefroloog.
Christian-Peter Hiemstra voor die klavier in die Moedergemeente. Foto: Marguerite van Ginkel
Hiemstra is in 2010 gebore, en het van jongs af ’n besondere belangstelling in die orrel getoon. Nie lank nadat die gesin na Engeland verhuis het nie, is sy grootouma se klavier per skip na Engeland vervoer.
Hiemstra was gefassineer deur die instrument en het dit gereeld uitmekaar gehaal om die meganiese werking daarvan te verstaan. Só het hy klavier begin speel.
Op agtjarige ouderdom het sy musiekonderwyseres sy ouers aangeraai om hom by ’n junior konservatorium te laat aansoek doen. Op nege het hy vir ’n oudisie by die Royal College of Music in Londen gegaan, waarna sy musiekloopbaan werklik momentum gekry het. Hoewel hy nie besonder lief is vir die weer in Brittanje nie, sê hy dit was nodig om daar te wees vir wat daarna sou volg.
Sy opleiding by die konservatorium het vir hom ’n sterk grondslag gelê, veral in tegniek en musiekteorie. Hy het ook talle geleenthede gehad om saam met ander musikante in ensembles te speel. Op 11-jarige ouderdom het Hiemstra somerkursusse in Nederland bygewoon, waar hy saam met professionele musikante aan ensemblewerk en ritmeklasse kon werk.
Hy het dié ervaring besonder geniet en het aan sy familie vertel dat hy musiek as ’n voltydse loopbaan wil volg en graag Nederland toe wil verhuis om sy drome na te jaag. Dit is toe dat sy ouers besef het verdere verhuising sou nodig wees om hom nog beter geleenthede te bied. In 2025 het die familie na Switzerland verhuis waarna Hiemstra op 15 by die Hochschule für Musik (FHNW) aanvaar is. Vandag is hy ’n voltydse student.
Basel, Switzerland waar die gesin tans woonagtig is. Foto: Verskaf
Hiemstra volg ’n onkonvensionele pad en sê hy is nie gaande oor reëls nie tensy daar ’n duidelike doel daarmee is nie. Hy sê hy leef in die hede, maar met ’n sterk fokus op die toekoms. As enigste kind het hy sy skoolloopbaan deur tuisonderrig voltooi en geniet hy tans die studentelewe. As pianis spandeer hy baie tyd op sy eie. Hoewel dit soms uitdagend is, sê hy dit hou ook voordele in. Hy is gemaklik in sy eie geselskap en kan sy tyd en energie fokus op dit wat vir hom saak maak.
Vir ontspanning draf hy en oefen in die gimnasium. Hy stel ook belang in fisika, innovasie en fotografie. Hy en sy geliefde kat, Katje, deel ’n besondere band. Nadat die gesin na Switzerland verhuis het, leer Hiemstra Duits as derde taal. Hy sê dit help dat hy reeds Afrikaans magtig is.
Katje, Christian-Peter Hiemstra se geliefde kat. Foto: Verskaf
Die vertoning in George vorm deel van tien konserte regoor Suid-Afrika. Die geleentheid om saam met die Drakensberge-seunskoor op te tree, was vir hom besonder spesiaal. Hy oefen gewoonlik tussen vier en ses uur per dag en sê meer as dit kan fisieke spanning veroorsaak. Die grootste uitdaging op toer is die in- en uitpak, asook om by verskillende klaviere en sale aan te pas wanneer die akoestiek of klank onverwags verskil. Hy moet dan vinnig aanpassings maak, maar is gemaklik daarmee.
Christian-Peter Hiemstra besoek George as deel van sy landwye toer. Foto: Marguerite van Ginkel
Hiemstra is duidelik uiters intelligent en doelgerig. Hy weet wat hy wil hê, waarheen hy op pad is en hoe hy sy toekoms wil vorm. Met die ondersteuning wat hy ontvang, is sy potensiaal groot. Die George-gemeenskap is inderdaad bevoorreg om hom in aksie te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’