GEORGE NUUS - Die derdeplekwenner van die 2023 George Has Got Talent-kompetisie, John Haas, is in die wolke en geniet homself gate uit in New York waar hy die afgelope naweek drie toekennings by die Talent America-kompetisie opgeraap het.
Hy het die eerste plekke verower in die kategorie Eie Keuse met sy vertolking van die lied The Rose en in die Gospel-kategorie met die lied People need the Lord. Hy is ook as die oorhoofse wenner van die afdeling Eie Keuse aangewys.
"Hierdie was my eerste kompetisie buite Suid-Afrika. Soos ander kompetisies is daar senuwees en angstigheid, maar dit was absoluut die moeite werd.
"Ek kon dit nie vermag het sonder God en die mense wat my op hierdie reis ondersteun het nie," het hy vanuit New York per WhatsApp gesels.
John se opwindende reis het Sondag 23 Junie begin toe hy uit Kaapstad 'n vlug gehaal het om in New York aan te sluit by ander spanlede vanoor Suid-Afrika en Namibië.
"Ek was die enigste kandidaat van George en die Suid-Kaap. Ons is tuis by The Manhattan At Time Square Hotel in New York en besoek elke dag toeriste-trekpleisters in die stad. Dis voorwaar 'n belewenis. Die somerweer is 'n bonus."
Die kompetisie is op Saterdag 29 Junie by die Manhattan Movement and Arts Centre gehou.
"Die senuwees het regtig geknaag. 'n Mens tree voor 12 beoordelaars op en dit was my eerste keer op 'n buitelandse verhoog, maar wat 'n belewenis! Die kompetisie is Sondagaand met 'n galageleentheid afgesluit."
John het 'n lys name gestuur van mense en besighede wat hy wil bedank vir hulle ondersteuning in die fondsinsamelingsgeleenthede wat in George gehou is om dit vir hom moontlik te maak om die onkostes vir die reis, verblyf en kompetisie te dek.
"Pacaltsdorp en die breë George, julle is tops," het hy gesê. "Aan al die donateurs en borge, my gasvroue, Oom Ben Parks, Tikketai Pacaltsdorp, Weldon Oogkundiges Pacaltsdorp, Jolene Noble, Prestige Verhuring, Candida's Event Management, Nails by Robin, DJ Gustav, Pat en Johnny van Party Time op Eden FM, baie dankie. Ook aan Sanet van der Merwe van Fun Fabulous Moments wat elke oomblik van hierdie geleenthede vasgelê het, baie dankie."
Elke funksie is georganiseer deur Divan Appels van Simplicity Events.
Dit was te danke aan die George Has Got Talent-kompetisie, aangebied deur Harmony Spiritual and Emotional Healing Centre, dat John deur talentsoekers raakgesien is.
"Ek het nooit kon droom dat dit tot so 'n wonderlike belewenis sou lei nie," het hy gesê.
Die drie toekennings word uit New York teruggebring Pacaltsdorp toe.
John tydens een van sy optredes by Talent America.
Saam met sy mede-deelnemers van Suid-Afrika en Namibië.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’