GEORGE NUUS - Honderde aanhangers van die bekende Suid-Afrikaanse sanger, komponis, skrywer en storieverteller, Nataniël, het verlede Dinsdagaand, 27 Augustus, sy optrede in George bygewoon.
Nataniël het saam met sy regterhand klavierbegeleier van twintig jaar, dr. Charl du Plessis, die gehoor in die stadsaal met sy pragtige stem en amusante staaltjies laat skaterlag en ook ‘n traan weggepink.
Bykans ‘n duisend mense het van vroegaand al begin versamel by die stadsaal en ‘n gevoel van opwinding en afwagting was duidelik voelbaar by die aanhangers. Die George-musiekvereniging wat van die reëlings behartig het, was baie opgewonde oor die ongelooflike ondersteuning van almal wat ook onder andere van Mosselbaai, Knysna en Sedgefield gekom het vir die geleentheid.
Du Plessis wat self ‘n baie indrukwekkende musiekloopbaan bedryf en internasionale erkenning ontvang het as ‘n Steinway-pianis, het goedhartig die klavier van die stadsaal laat restoureer deur ‘n klavierkenner spesiaal van Kaapstad te bring. Die hele klavier is uitmekaar gehaal en herstel. Volgens Du Plessis, wat daarna vir Nataniël begelei het, is die klavier nou weer in ‘n uitstekende toestand vir die gemeenskap van George wat gereeld die klavier gebruik vir konserte.
Nataniël en Du Plessis was baie opgewonde oor die goeie ondersteuning en het belowe om gou weer ‘n draai in George te kom maak.
Volgende keer sal hulle sommer ‘n hele orkes saambring.
‘n Skenking aan die George-musiekvereniging deur Nataniël en Du Plessis sal aangewend word vir die Jong-musiekantekompetisie wat plaasvind op Vrydag 11 Oktober by die NG Moederkerk.
Vir meer inligting klik hier of Facebook en Instagram.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'