Gallery
GEORGE NUUS - Moses Williams, 'n boorling van Graaff-Reinet, het Sondag 29 April bewys dat hy altyd slaggereed is om 'n lekker grappie te vertel.
Williams, algemeen bekend as Coloured Laaitie onder sy ondersteuners, kan uiteindelik na sy Home Avêrs-vertoning by George-burgersentrum, een droom van sy droomlysie afmerk.
"Ek het die grootste gemeenskapsaal in die Suid-Kaap met ondersteuners gevul, een ideaal het ek bereik," sê Williams.
"Sondagaand was my tweede uitverkoopte vertoning in George na verlede jaar se Kleurling Sake by die Oakhurst George Arts Theatre. Ek dink ek het die mense van George kwaliteit gegee vir hulle geld en dit was my goal, om die show vir die mense die moeite werd te maak," sê Williams.
Home Avêrs was vir Williams spesiaal, want dis die eerste keer dat sy hele familie al die pad vanaf Graaff-Reinet gekom het om hom te ondersteun.
Ten spyte dat die program met bykans 'n uur vertraag was weens tegniese probleme na die kragonderbreking het oud en jonk die vertoning bygewoon en behoorlik hulle maagspiere getrek van lekker lag toe Williams op die verhoog verskyn.
Al die pad van Graaff-Reinet. Voor, van links: Geraldine Williams(suster), Helloise Saaiman, Claudia Williams (ma) op haar skoot sit nog 'n Claudia Williams, Sarie Kuboni (ouma) en Junior Williams. Agter, Leezan Williams (broer) Jason Jafta, Simone Cloete (lewensmaat) met sy en Moses se seun, Khilermo Cloete, Moses Williams, Orion Williams, Jonathan Lewies, Andile Williams, Donovan Jafta, Ricardo Williams en Jerome Koopman.
Williams sê daar is nog baie waarna sy ondersteuners kan uitsien. "Daar is nog so baie wat ek vir my ondersteuners in George en die res van die Suid-Kaap, wat nog nie vir Coloured Laaitie in aksie gesien het nie, wil bied.
Die volgende opvoering wat ek beplan is 'n tipe van 'n Maak 'n Las-produksie waar ek van die Suid-Kaap se beste storievertellers op een verhoog wil plaas sodat mense net kan kom sit, ontspan en na ons mense se stories kom luister.
"Ek beplan ook nog 'n hele paar groot projekte wat beteken ek gaan ook baie groot name kry om my te help om hierdie projekte in die George en Suid-Kaap omgewing van stapel te stuur."
Williams bedank sy ondersteuners, borge, familie en sy tannie by wie hy tans woon, Sherley Jafta, vir ondersteuning en opkoms by Home Avêrs.
Moses Williams (tweede van links) saam met sy borge, wat gehelp het om die aand moontlik te maak. Van links is Wazeer Brown (Urban Loop Streetwear), Gaylene en Basil Myners (BM Skills Development).
Die openingsoptredes sluit in, Heinrich Wesso, Craig Claassen en Veronique Ferndale (ook 'n boorling van Graaff-Reinet).
Persone wat belangstel om die DVD van Home Avêrs of Kleurling Sake te koop, is welkom om vir Moses by 074 301 2415 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'