GEORGE VERMAAKNUUS - Goeie nuus vir musiekliefhebbers van George en omgewing: die herfsreeks etensuurkonserte wat die afgelope paar jaar 'n instelling geword het, begin weer op Woensdag 18 Maart.
Hierdie konserte beteken baie vir George: inwoners kan optredes deur kunstenaars van hoogstaande gehalte geniet - en dis gratis!
Die konsertreeks gee aan hoofsaaklik plaaslike kunstenaars die geleentheid om op te tree en hul talent met inwoners te deel.
Die aangename atmosfeer en goeie akoestiek van die NG Moederkerk maak dit 'n gewilde en geskikte lokaal vir hierdie konserte wat hoofsaaklik klein ensembles behels.
Die konserte word op Woensdae gehou en duur vanaf 13:10 tot ongeveer 13:50. Hoewel dit gratis is, word donasies baie waardeer om onkoste te help dek.
Die volgende konserte word beplan:
18 Maart: Afrikaanse liedere van Dalene Brits met Elisabeth Potgieter, Heinrich Jonck, Buks Gericke, Mia Dupper en Dalene Brits.
25 Maart: Calvin Steyn en Dalene Brits (o.a. Brahms vioolsonate)
1 April: Rian Smit en Kalene Roux (fluit en klavier)
8 April: Laerskool George-Suid-koor onder leiding van Calvin Steyn, met instrumente
15 April: Gerrit Jordaan (orrelmusiek uit die Romantiek van Widor, Franck en Dubois)
22 April: Elize Munro en Dalene Brits (o.a. Brahms klarinetsonate)
28 April: Galakonsert
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'