Rhodé Snyman, die uitvoerende hoof van die Klein Karoo Klassique, het na die vertoning gesê sy is verheug dat die Rupert Stigting bereid was om die koste te help dra van vanjaar se fees wat van 14 tot 17 Augustus plaasvind. Die korporatiewe onderskraging is uiters belangrik gegewe dat die koste verbonde aan die optredes van kunstenaars (almal internasionaal sowel as nasionaal met toekennings bekroon) baie hoog is.
Die Rupert Stigting se borgskap maak dit nou moontlik dat feesgangers teen 'n pakketkoste van slegs R545 al agt uitvoerings kan gaan sien.
Die aanvallige Stapelberg was op haar stukke tydens Sondag se optrede in George, met uittreksels uit die romantiese en vurige tango-opera, Maria de Buenos Aires en 'n spitsvondige Sarie Marie met Afrikaans en Spaans gemeng vir 'n lagwekkende effek.
In 2000, het Stapelberg 'n lid geword van die Kaapstadse Opera en reeds in 2001 het sy die beste jong sanger toekenning van die Kaapstadse Vriende van die Opera ontvang. Sy het ook die Standard Bank jong kunstenaar toekenning in 2008 verower.
Sy het gebieg dat sy nog steeds so vurig soos altyd is oor haar operaloopbaan en sy het van oor tot oor geglimlag oor die geesdriftige ontvangs van die gehoor. Tydens 'n gesprek na afloop van haar vertoning het sy gesê sy voel dat passie belangrik is en dat sy sing met 'n blues soul.
Stapelberg kan in die Mimi Coertse-galakonsert gesien word saam met Thomas Erlank (tenoor), Refiloe Olifant (viool) en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes onder leiding van maestro, Corvin Matei.
Die 16 Augustus gala-aand beloof om 'n romantiese een te wees met musiek uit Giacomo Puccini se Madama Butterfly en Milango uit die tango-opera Maria de Buenos Aires.
Sy gaan ook te sien wees tydens 'n toer van die Suid-Kaap in November en hoop om weer in George aan te doen. (Hou die George Herald dop vir meer inligting).

Sprankelend en sensueel ... Zanne Stapelberg tydens Sondag se Klein Karoo Klassique be-kendstelling 2014 in die George Arts Theatre. Die fees vind plaas vanaf 14 tot 17 Augustus in Oudtshoorn. Foto's: Pauline Lourens
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'