GEORGE VERMAAK NUUS - Na jare se harde werk in die vermaaklikheidswêreld kan George se eie Gregory Noble met trots sê, hy het sy eie gospel CD, Through It All.
Noble het ook onlangs by die program, Koortjies, saam met Jonathan Rubain, gekuier. Die episode, waar Noble sing en gesels oor hoe hard hy gewerk het aan die CD, gaan in Augustus verskyn.
"My kuier by Koortjies was geseënd. Hulle het my genooi om te praat oor my joernalistieke werk en oor ek my eie gospelblad het."
Hy glo jy moet nooit ophou droom nie. Sy droom van 'n eie CD het op 45 bewaarheid geword toe hy verlede Desember sy eie CD vrygestel het. "Aanhouer wen en glo in jouself, met harde werk en toewyding word jy beloon."
Hy vertel hy was veronderstel om in April te gaan toer, maar Covid-19 het hul planne in die wiele gery. "Aanhangers kan steeds my CD bestel deur 'n WhatsApp-boodskap te stuur."
Noble sê dit was 'n ongelooflike ervaring en goeie blootstelling vir hom as gospelkunstenaar. Maar met die opwinding, kom ook hartseer.
Noble moes saam met sy kollegas by Son die koerant groet. "Dit was met hartseer dat Son op Sondag gesluit het. Ek het baie geleer oor die ses jaar daar, ek bly nog steeds aan as vryskutskrywer by Son waaroor ek baie dankbaar is."
Hy meen sy CD kan hoop bring gedurende die Covid-19-tye, waar almal iets nodig het om aan te glo. Hy sê Covid-19 het almal hard geslaan, baie sit sonder werk en ander is laat gaan weens personeelvermindering, maar mense moet positief bly en weet dit ook sal verbygaan.
"Hou goeie moed en kom ons wees gehoorsaam aan die reëls van die regering."
Noble is tans tuis in George en help uit as gasaanbieder by Heartbeat FM.
Noble meen sy kuier by die program Koortjies kon nie op 'n beter tyd gekom het nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'